Hy is Saterdag 6 April in ’n onverklaarbare ongeluk beseer by Mango’s, ’n eetplek in Hartebeespoortdam.

Daar word vermoed dat Jannie van een van die dakke geval het. In die proses het hy frakture aan sy wangbeen en oogbank opgedoen, en ook sy arm en hand beseer.

Hy het intussen al vier operasies ondergaan om skade aan sy hand te herstel en ook die frakture te heg.

Volgens Barnard Beukman, Jannie se woordvoerder, reageer Jannie steeds goed op die behandeling. “In ’n belangrike stap vir sy herstel is hy gister van die kunsmatige asemhalingsmasjien ontkoppel en haal gemaklik self asem. Medikasie waarmee hy in ’n geïnduseerde koma gehou is, is ook reeds gestaak.”

Vanoggend het hy nog grootliks geslaap en die verwagting is dat hy nou geleidelik sy bewussyn sal begin herwin. Hy is steeds in die trauma-eenheid.

Sy naasbestaandes het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor die talle beterskapswense op sosiale media en elders.

- Suzanne Venter