OM OP 49 weer jou hart te verloor, is nogal ’n storie, sê Janie du Plessis.

Veral ná ’n huwelik van tien jaar wat haar wreed ontnugter gelaat het.

In ’n biografie, ’n Keuse vir die Lewe, maak die voormalige TV-aanbieder en glansryke Kaapstadse sakevrou vir die eerste keer haar hart oop oor haar “hartverskeurende, tragiese’’ huwelik.

En een van die eerste eksemplare van die boek het sy vir die nuwe man in haar lewe gegee – Rian du Plessis, ’n miljoenêr-sakeman wat sy ’n jaar gelede by ’n gemeenskaplike vriend se  verjaardagpartytjie in Kaapstad ontmoet het.

Haar biografie, sê sy, is nie die verhaal van ’n slagoffer nie. Dis die verhaal van ’n vrou wat ’n tragedie oorwin het.

“Ek het al die jare my borskanker-verhaal vertel, maar nooit oor die goed gepraat wat in my binnekamer aangegaan het nie.”

Dit was hoe die boek-idee begin het – sy sou vertel van haar kanker. Maar algaande het sy besef daar is eintlik veel meer om oor te dra, om vroue wat, soos sy destyds in haar huwelik met die Italianer Massimo Beltrami, vasgevang sit in ’n situasie waarin hulle ter wille van hulself en hul kinders eenvoudig nie meer moet bly nie.

“Dit gaan oor die heiligheid van ons huwelike en hoe ons belofte van getrouheid aan ons maat dikwels tragedies wegsteek wat geen uitkomkans bied aan die een wat swaarkry nie. Veral ons Afrikaanse vroue is geleer dat uitpraat uit die huwelik nie iets is wat ons doen nie.

“Alles wat ek destyds gedoen het, was ter wille van die kinders. Elke besluit. My stilte, my deelname, my aanvaarding van ’n klomp goed, my isolasie. Ek het in ’n klein dorpie in Europa gewoon en ek kon die probleme maklik vir my mense wegsteek. Maar ek het later besef dit help nie jy hou ter wille van die kinders die huweliksbootjie aan die dryf nie.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 18 November 2010