Toe die popster, Janet Jackson, bekend gemaak het dat sy swanger is, het dit skokgolwe deur talle gestuur. Sy is immers reeds 50 jaar oud . . . Tot en met Vrydag het Eissa nog nie in die openbare oog verskyn nie. Maar skynbaar het ma Janet besluit dis tyd dat die wêreld haar en die besigheidsmagnaat, Wissam Al Mana (42), se seun ontmoet. Dit is die paartjie se eerste kind. Sy het dié foto op Twitter geplaas nadat sy en haar baba glo ’n uiltjie geknip het.

Dit het onlangs gegons oor gissinge dat Janet en Wissam kwalik drie maande na Eissa se geboorte uitmekaar sou spat. Die paartjie is volgens berigte sowat vier jaar getroud maar dit wil voorkom asof daar té veel konflik oor geloof en leefstyl is. Wissam wil glo hê Janet moet sterker aan Moslem-tradisies gebonde wees. Maar Janet is nie heeltemal te vinde daarvoor nie. Bronne na aan die paartjie beweer dat Janet nie meer soos haarself voel nie. Haar loopbaan is besig om daaronder te lei en Wissam word daarvoor blameer.

Die bron beweer Janet is wel lief vir Wissam, maar sy wil haar eie lewe terughê.

Janet het vantevore gesê haar twee mislukte huwelike en vorige romanses het nie uitgewerk nie omdat sy slegte geluk het wat sake van die hart betref.

“Ek het gedink ek is vervloek. Of dat die huwelik my dalk net nie beskore is nie. Dalk is dit my skuld dat dit nooit werk nie.”