Die aktrise Jane Seymour lyk vuurwarm in ’n pienk bikini op ’n onlangse uitgawe van die Amerikaanse tydskrif Closer Weekly se voorblad. Maar die 62-jarige ster ontken dat ongesonde of streng dieet- en oefenplanne volg om haar lyf so viets te hou.

Jane Seymour op die voorblad van Closer Weekly

Die gewese Bond-meisie sê sy oefen drie keer per week ’n uur in die gim. Dan sal jy haar met gewigte in die hand, op die oefenfiets of op die Gyrotronics-masjien kry. Laasgenoemde kombineer strek- en kragoefeninge.

Sy speel ook tennis en gholf, en swem. Soms stap sy ook en doen dan opstote op pad. “Ek wil net so gesond moontlik vir so lank moontlik wees,” sê sy.

Wat haar eetgewoontes betref, sê die 1,6 m lange vrou wat sowat 52 kg weeg: “Geen diëte vir my nie. Ek haat dit om myself iets te belet. As ek pasta eet, eet ek net helfte daarvan.”

Bron: Closerweekly.com