Jane Lynch sê die draaiboek vir die Cory Monteith-huldeblykepisode van Glee is “pragtig”.

Die 53-jarige aktrise speel die hardgebakte dirigente-afrigter, Sue Sylvester, in die program en het Woensdag 21 Augustus die eerste keer die dialoog vir die emosiebelaaide huldeblykepisode gelees. Sy het vertel sy is dankbaar teenoor die program se skeppers en skrywers oor hoe hulle besluit het om van Cory se karakter, Finn Hudson, afskeid te neem.

Sy het getwiet: “Pas die Cory Monteith-huldeblykeposide gelees. Pragtigste ding. Dankie, @MrRPMurphy (Ryan Murphy), @BFalchuk (Brad Falchuk) en Ian Brennan.”

Jane het al gesê sy kon haarself nie sover kry om die teks te lees om uit te vind hoe Cory (31), wat in Julie ná ’n oordosis heroïen en alkohol dood aangetref is in sy hotelkamer in Vancouver in Kanada, uit die program geskryf word nie.

Vroeër vandeesweek het sy gesê: “Die teks is by die huis en wag om gelees te word. Goeiste, ek het geen idee hoe om dit te doen nie.”

Jane het ook erken dat sy skrikkerig is vir die verfilming van die episode op Vrydag 23 Augustus. Sy het verder verklap sy is bly die verantwoordelikheid om vir Cory ’n roerende afskeid te gee lê by die vervaardigers omdat dit belangrik is om die huldeblyk reg te doen.

Sy het bygevoeg: “Ek is bly ek hoef nie die huldeblyk te beplan nie omdat dit nie net ons is wat van hom afskeid neem nie; die gehoor sê ook tot siens aan hom. Nie net Cory nie, maar ook Finn. Dis regtig hartseer. ’n Groot taak wag op hulle.”

Ryan, een van die skrywers, het onlangs verklap hulle gaan waarskynlik nie wys hoe Finn sterf nie. Hulle wil eerder konsentreer op ’n viering van Cory se lewe as op die omstandighede rondom sy dood.