Op die kykNET-werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou is die vrugte-groente-en-pluimveeplaasboer Jan (51) van Ceres ’n haan onder die henne: In die sesde seisoen van dié trefferreeks het hy by verre die meeste briewe van die top-10 boere ontvang.

In die nuwe Huisgenoot vertel Jan eksklusief op sy plaas hoekom hy dink hy so gewild is en wat die ware rede agter sy deelname in die program is.

Hy vertel ook meer oor die drie vroue, Erica, Veronica en Glaudien, wat hy in die program na sy plaas genooi het. Dit verg omtrent kopkrap, sê hy, om te besluit wie van die drie hy eindelik gaan kies – maar wat dink die drie vroue van hom?

Jan se top-drie het met Huisgenoot gesels en verklap hoekom Jan vir hulle onweerstaanbaar is.

Erica

Erica (49)

“Jan is ’n baie standvastige, Godgegewe mens – en dan is hy nog aantreklik ook! Behalwe dat hy die enigste boer in my ouderdomsklas is, is hy net ’n pragtige mens. Toe ek hom ontmoet, is alles bevestig wat ek van hom gedink het: Hy’s opreg, hy weet wat hy uit die lewe wil hê, hy draai nie doekies om nie – jy weet waar jy met hom staan. Wat sy persoonlikheid betref: Hy is baie gemaklik om mee te gesels en mee oor die weg te kom. Ek is nooit ongemaklik rondom hom nie, en hy weet wat hy uit die lewe wil hê.”

Veronica

Veronica (43)

“Ek het vir Jan geskryf omdat ons so baie gemeen het: Ons het albei ’n kleinseun, ons het albei dogters en ons is albei lief vir die plaaslewe; ek was verloof aan ’n plaasboer en my suster is getroud met een. Op sy profiel het Jan baie aantreklik gelyk, en in persoon was hy presies dieselfde. Hy is baie gedissiplineerd en ek het uit die staanspoor geweet waar ek met hom staan.”

Glaudien

Glaudien (43)

“Om eerlik te wees: Toe ek sy profiel sien en hoor wat hy in ’n vrou soek, het ek besef dit is presies alles wat ek in ’n man soek. Hy wou, nes ek, iemand hê met wie hy ’n pad kan stap en iemand wat hy kan vertrou. In my brief aan hom het ek gesê vertroue is nogal vir my ’n kwessie, so dit was vir my ook baie belangrik. Sy persoonlikheid het my onmiddellik opgeval en hy was baie aantrekliker as wat hy in die Huisgenoot was; hy lyk sommer jonger. Nes ek is hy ook baie lief vir kinders en hy’s ’n gesinsman. Ons deel dieselfde uitkyk – en ek hoop hy kies my!”