Suid-Afrikaners is bekend daarvoor dat hulle op enige plek en in enige weer sal braai.

Maar Jan Braai, die man wat al sinoniem geraak het met Nasionale Braaidag, het dit gister ’n tree verder gevoer en selfs onder die water gebraai! Nasionale Braaidag word jaarliks gevier op 24 September, Erfenisdag.

“Ons het al ’n paar interessante vleisbraaie gehad: by al agt wêreld erfenis-terreine in Suid-Afrika, in al vier uithoeke van die land en ook onlangs die eerste braai ooit op Mafadi-piek, die hoogste punt in die land,” het Jan gister gesê. “Maar dit is besonder opwindend: ’n unieke braai in die Suid-Afrikaanse see, wat ons voorsien van soveel van die lekker goed wat ons kan braai.”

Hoe het dit gewerk?

’n Spesiale braaiplek is vir die geleentheid in Pretoria gebou en na Kaapstad vervoer. Dit het ’n raamwerk en skoorsteen van staal, met glaspanele. Daar was ook ’n aparte pyp wat vars lug ingepomp het sodat die vuur kan brand. Voor die braaiplek verseël en in die water laat saak is, is ’n rooster, boerewors en ’n braaitang binne-in gesit. Dit is toe laat sak tot op ’n diepte van 3 m. Jan, geklee in ’n duikpak, het toe sy hande deur spesiale handskoene ingesteek om die vuur aan te steek, die eerste onderwatervuur ter wêreld! “Dit is heel van pas om in Houtbaai te braai. Ons het boonop onlangs die dorp herbenoem tot Houtbraai!” het Jan agterna met ’n glimlag gesê. “Dit klink dalk mal, maar om 50 miljoen mense wat 11 verskillende tale praat te verenig om ons gedeelde erfenis te vier, klink ook mal. As ons dit weer volgende Dinsdag kan regkry, en ek weet ons sal, dan is ’n braai onder die see eintlik ’n eenvoudige taak!” - Suzaan Hauman

KOMPETISIE: Vyf mense kan elk Jan Braai se nuwe boek wen! In sy tweede boek, Vuurwarm gaan Jan Braai verder as algemene raad oor vuurmaak en die braai van steak, tjops, hoender en wors: Hy daag lesers uit om ook sy heerlike kerrie-potjies, pannekoek, hoender-mayonnaise broodjies, malvapoeding en appeltert op ’n oop vuur te probeer! Vuurwarm spog ook met maklike instruksies, volkleur foto’s en Jan se kenmerkende braaihumor. Dié pragboek is gepak met meer as 80 lusmaak-resepte, wat alle braaiers – van beginners tot dié wat wéét – sal inspireer om vriende en familie te nooi vir smulkos en samesyn. Beantwoord hierdie vraag: Wat is die naam van Jan Braai se nuwe boek?

  • SMS jou naam, van en antwoord voor 24 September om 17:00 na 34922.
  • Elke SMS kos R1,50.

Wenners sal lukraak gekies word. Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse binne ’n redelike tyd. Die wenner sal in kennis gestel word.

JanBraaiVuurwarm