Chris Martin het Jamie Oliver gevra om sy vrou, Gwyneth Paltrow, te leer kook.

Die 36-jarige Coldplay-hoofsanger het die bekende kok genader om Gwyneth (40) ’n kookles as verjaardaggeskenk te gee. Sy het ’n hele paar resepteboeke geskryf, onder meer Notes from my Kitchen Table en It's All Good: Delicious, Easy Recipes that Will Make You Look Good and Feel Great.

Jamie (38) het aan die Daily Star gesê: “Ek ken Gwyneth omdat haar man Chris gebel en gevra het of ek haar ’n kookles vir haar verjaardag sal gee.

“Ek is ’n groot aanhanger van Coldplay en Gwyneth is ’n pragtige vrou; daarom was dit ’n gedane saak.”

Die twee het die middag heerlike eend-ragu gemaak, en Gwyneth het dit later gebruik in haar resepteboek My Father's Daughter: Delicious, Easy Recipes Celebrating Family And Togetherness, wat in 2010 gepubliseer is.

Hy het vertel: “Ek het die middag in haar kombuis gekook; ons het eend-ragu gemaak wat stadig in die oond gebraai het. Toe het ’n klomp van haar vriende gekom en dit geëet.”

Die blondine wat verlede jaar op 27 September 40 geword het, het die geleentheid stylvol met ’n aandete in die Italiaanse restaurant Elio in New York gevier.