’n “Jaloerse, besitlike” minnares gaan lang jare agter tralies slyt nadat sy suur op haar kêrel gegooi het. Katie Leong (52) het in Julie verlede jaar vir ses genadelose sekondes 95% swaelsuur op haar kêrel, Daniel Rotariu, uitgegooi, wat hom geskend en blind in albei oë gelaat het.

Katie en haar ekskêrel, Mark Cummings (46), het op aanklag van poging tot moord in die Leicester-hof verskyn. Daar is aanvanklik beweer Mark het met sy eksmeisie saamgesweer om Daniel te vermoor in ’n poging om met haar te versoen.

Mark het die suur aanlyn bestel, maar hy hou vol hy het gedink dit is bestem vir ’n besigheid wat juweliersware skoonmaak.

Mark is Dinsdag vrygespreek van die aanklag teen hom, maar Katie is minstens 17 jaar tronkstraf opgelê.

[caption id="attachment_173340" align="aligncenter" width="300"]Daniel Rotariu. PHOTO: Facebook Daniel Rotariu. Foto: Facebook[/caption]

“In ’n poging om die blaam vir die aanval te vermy, het Katie probeer om Mark Cummings te betrek. Hy wou meer as enigiets hul verhouding hervat,” het die staatsaanklaer, Angela Clark, gesê.

“Maar ons glo dat sy die dryfkrag agter die aanval was en die jurie het beslis Mark Cummings is nie skuldig aan poging tot moord nie.”

Volgens Daniel het hy en Katie gereeld gestry. Sy het glo tydens ’n geveg toe die jaloesie haar beetpak, daarop aangedring dat hy sy Facebookrekening skrap en haar naam op sy lyf tatoeëer as ’n simbool van sy liefde vir haar.

Op die dag van die aanval in Turner-weg, Leicester, het die paartjie weer gestry. Daniel het omstreeks 20:00 bed toe gegaan, maar is teen middernag gewelddadig wakker gemaak deur ’n sensasie van brand.

Daniel sê hy het oomblikke voor hy sy sig verloor het, ’n “silhoeët” in die vertrek gesien, maar kon nie vir seker sê wie dit was nie. “Dit is moeilik om die gruwel en wreedheid te beskryf van wat hom aangedoen is. Dis ewe moeilik om die kille gebrek aan besorgdheid vir hom sedertdien te aanvaar,” het die ondersoekbeampte Rich Ward gesê. “Katie het geen berou – of menslikheid – getoon oor wat sy gedoen het nie.”

Bronne: mirror.co.uk, metro.co.uk, leics.police.uk