Die KKNK kry vandag ‘n tikkie ekstra swierigheid wanneer Jakkie Louw  ‘n dag voor die groot feestelikheid die knoop hier gaan deurhaak. En natuurlik is Huisgenoot by om die storie eksklusief vir julle te bring!

Die sanger sy verloofde, Anél van Schalkwyk, sê hulle troue hier op Oudtshoorn gaan groot partytjie te wees met van ons bekendste sangers onder die gaste. En terwyl die dorp sy laaste feesvere regskud, hardloop Jakkie en Anél op die oomblik rond om hul blitstroue iets besonders te maak.

Jakkie het vroegoggend al vergader met sy seremoniemeester, Kevin Leon, hy moes die DJ onder vier oë spreek en dan moet hy nog 'n draai by die fotograaf ook maak - elke spesiale oomblik moet mos behoorlik vasgevang word!

Jakkie het vanoggend vertel hy kan nie wag om Anél sy vrou te maak nie. “Ons het mekaar gisteraand laat laas gesien en SMS mekaar al van vroegoggend af,” het hy van sy ouers se plaas buite Oudtshoorn gesê.

Om presies 06:10 het hy sy eerste SMS aan sy verloofde gestuur en gesê: “Ek het besluit ons moet sommer vandag trou, dan bly ons vir altyd saam en maak babatjies.”

Waarop Anél ewe opgewonde geantwoord het: “Dis hoekom ek met jou trou, jy het altyd die beste idees – nes ek.”

Kyk uit vir wonderlike foto’s en nuus oor Jakkie en Anél se Karoo-troue in die Huisgenoot van 14 April wat van volgende Vrydag af te koop gaan wees – dit gaan iets besonders wees!