Die sanger Jakkie Louw, bly net nie uit die moeilikheid nie. Skaars het hy op twitter sy mond uitgespoel oor sy rowwe “gig” in Bloemfontein, of hy jaag ‘n klomp kykNET-kykers op hol met sy nuutste musiekvideo waarop hy die Voortrekker-Monument laat verrinneweer.

kykNET-kykers was onthuts oor die ontstellende beeldmateriaal in Jakkie se nuwe musiekvideo wat gisteraand vir die eerste keer uitgesaai is. Die video van “Gemaak in SA” begin met ‘n nuusberig van ‘n tornado wat die Voortrekker-monument platvee.

Die betaalkanaal het klagtes gekry dat die nuusberig darem net te realisties lyk. Die gevorderde animasie wat vir die video gebruik is lyk inderdaad baie eg – só eg dat iemand selfs die dagblad Beeld uit Oudtshoorn gebel het om te hoor of hulle joernaliste van die “ramp” by die Voortrekker-monument weet.

Jakkie sê hy aanvaar kykNET moet die belange van sy kykers op die hart dra. Maar “die mense wat... gekla het oor die video, moet regtig net drie minute van hulle dag neem om die video klaar te kyk”.

“Hulle sal dan sien dat die monument weer opgebou word aan die einde.”

Die boodskap wat hy wil uitstuur, is dat Suid-Afrikaners enigiets wat afgebreek word, weer sal opbou, sê Jakkie. Want “ons is Gemaak in SA”.

Maar Haddad Viljoen, woordvoerder van kykNET sê die uitsending van die video was in geborgde lugtyd. Die volle musiekvideo is nie uitgesaai nie en daarom kon sekere kykers dalk nie die hele boodskap verstaan het nie. “As die video weer uitgesaai sou word, sal ons seker maak dit word in sy geheel uigesaai,” het Haddad gesê.

Jakkie sê hy hoop van harte die video word weer op kykNET gewys. “Ons het twee jaar lank daaraan gewerk en dit het duisende rand gekos,” sê hy.

Maar hy kan verstaan dat die tydsberekening dalk ‘n bietjie rof is. “Die mense kyk televisie en hulle sien die beelde van die tsoenami in Japan en dan skielik is hier ‘n tornado in Pretoria. Maar dit was regtig nie so beplan nie.”