Almal het partykeer ‘n slegte aand. En vir Jakkie Louw was Saterdagaand duidelik so ‘n aand.

“Ek't vanaand die ergste gig van my lewe gehad. Mense is so gesuip hierso in Bloem dat ek net wil huistoe. Mis vir Anél,” het hy Saterdagaand getweet. (Anél van Schalkwyk is natuurlik sy verloofde en ma van sy ongebore baba.)

Dit was sommer ‘n hele deurmekaarspul, verduidelik Jakkie toe ons hom daaroor uitvra. Eerstens moes hulle inderhaas ‘n nuwe plek kry om sy vertoning saam met die tromspeler Riaan van Rensburg, die Blou Show, te doen toe dit blyk dat die plek waar hulle oorspronklik sou optree, nie ‘n lisensie het om lewendige vertonings aan te bied nie.

Iemand bied toe ‘n kroeg buite die stad naby die snelweg aan, maar sommer met die intrapslag was dit duidelik party van die manne het al van vroeg af daar gekuier. Daar was seker ook maar heelwat sorge om te verdrink ná die Cheeta’s die middag teen die Leeus verloor het.

“Dit was maar rowwe kêrels,” erken Jakkie. “Vroeër het ek baie in kroeë opgetree, maar deesdae is ek nie meer gewoond dat ‘n ou wat te veel gedrink het sommer in my gesig vir my sê waarvan hy hou en waarvan nie.” Die vrolike Jakkals en sy maat is toe sommer gou na die vertoning daar weg.

Die reëlings vir hul troue later vanjaar verloop seepglad, vertel Jakkie. En hy laat wraggies trou-reëlings klink soos ‘n piekniek. “Ons doen shows vir ‘n lewe, so ons doen maar net wat ons altyd doen. Reël die plek, reël die blomme, die musiek...”

Maar voordat hy voor die kansel gaan staan, gaan Jakkie eers ‘n ander groot eerste beleef. Hy sing die naweek by SkouspelPlus – sy eerste Skouspel-konsert ooit en hy is vreeslik opgewonde oor die vooruitsig. “Ek dink hulle het besluit om sexy terug te bring Skouspel toe,” spot hy eers, maar voeg dan ernstiger by: “Ek gaan ‘n klomp lekker, vars goed doen en ek weet dit gaan ongelooflik wees.”