Wanneer ’n mens na Jakkie Louw se nuwe musiekvideo Aardetyd is Genadetyd kyk, wil jy amper in trane uitbars. Dit wys foto’s van ’n meisie se lewe en haar stryd teen kanker. Binne 24 uur nadat Jakkie die video op sy Facebook-bladsy gelaai het, het meer as 2 000 mense al daarna gekyk.

Huisgenoot het vyf vrae aan Jakkie gestel:

HG: Wie is die vrou in die musiekvideo?

JL: Die vrou is Jana du Plessis wat ek een aand op Mosselbaai ontmoet het waar ek by ’n geleentheid vir Kansa gesing het. Jana is soos ’n internasionale held vir hoop vir kanker. Sy het kanker in haar voet gekry waarna haar been geamputeer moes word. Daarna het sy al skoonheidskompetisies asook pryse met verspring gewen. Ek het na haar toe gegaan en my CD vir haar gegee. Sy het gesê haar man is die grootste Afrikaanse musiek-aanhanger en van daar af het ons pêlle geraak.

HG: Hoe het dit gebeur dat jy die liedjie Aardetyd is Genadetyd geskryf het?

JL: Die aand op Mosselbaai het sy vir my haar boek, Aardetyd is Genadetyd, wat sy saam met Maretha Maartens geskryf het, gegee. Ek wou die boek lees, maar het die aand aan die slaap geraak sonder om dit te lees. Die volgende dag het ek die boek in die gastehuis vergeet. ’n Rukkie later het ek weer vir Jana raakgeloop en vertel ek het die boek in die gastehuis vergeet. Sy het weer vir my ’n boek gegee wat ek weer in ’n gastehuis vergeet het. Jana het toe ’n boek vir Kevin Leo gegee. Ek het sy boek gevat en dit begin lees. Teen die derde bladsy was ek in trane. Toe ek by die huis kom, het ek net geweet ek moet die liedjie skryf. Ons het mekaar weer by ’n geleentheid raakgeloop en ek het vir haar gesê ek het die liedjie, sy moet vir my foto’s gee van haar lewe, dan kan sy dit gebruik tydens haar motiveringspraatjies.

HG: Watter les het jy by Jana geleer?

JL: Jana is die sterkste mens wat ek ken. Sy het soveel ongelooflike battles al ge-fight en elke keer ander kant uitgekom. Na alles wat sy deur is, wil sy net een ding doen en dit is om mense te help. Ons is so geseënden moet dit wat ons het gebruik om ander te help.

HG: Hoekom dink jy gryp die liedjie mense aan?

JL: Jana se storie het al soveel mense se lewe aangeraak juis omdat sy so ’n ongelooflike mens is. Sy lewe vir haar man en kinders en om ’n verskil in mense se lewe te maak. Deur die liedjie wys ons daar is mense wat ’n stryd teen kanker stry, aan die anderkant uitkom en lewe.

HG: Watter deel van die liedjie beteken vir jou die meeste?

JL: Klein bietjie liefde maak jou sterk, dis die klein hallelujas wat die beste werk.

Hilda Fourie

Kyk die video hier: