Ná al die bespiegelinge oor die voormalige Springbok-afrigter Jake White se toekoms, het Suid-Afrikaners nou die antwoord: Hy is die Haaie se nuwe direkteur van rugby. Die Haaie se uitvoerende hoof, John Smit, het dit op die span se webtuiste bevestig en gesê: “Ons is ongelooflik bly om (Jake se) aanstelling te bevestig. Ons het ’n formidabele verhouding opgebou tydens my rugby-loopbaan en ek is verheug om daardie vennootskap te hervat, wat ooreenstem met ons visie om die Haaie na die volgende vlak te voer.”

John en Jake was die Springbok-kaptein en -afrigter toe die nasionale rugbyspan in 2007 die Wêreldbeker gewen het en dit sal min mense verbaas dat dié twee weer wil saamwerk. Jake het verlede week aangekondig dat hy sy kontrak met die Australiese Brumbies beëindig het.

Die Haaie sal later vandag nadere besonderhede oor Jake se aanstelling bekendmaak wat einde Oktober in werking tree.