Die De Priester-huishouding is nou behoorlik op sy kop gekeer.

Skaars is Jak de Priester ensy vrou Michelle se babadogtertjie gebore en veilig terug by die huis, of die gewilde sanger en skrywer moes by die Staatsteater in Pretoria vir ‘n weeklange vertoning aanmeld.

Jak het net behoorlik tyd gehad om Michelle en hul nuwe babadogter Maandag by hul huis in Parys te gaan aflaai, toe moes hy hom weer na die Staatsteater haas waar hy die hele week saam met 1 600 leerling in ‘n revue speel.

Jak en Michelle se tweede kind, ‘n dogtertjie, is op 22 Julie gebore. “Mija is Vrydagmiddag half-vier in Die Kloof Medi Clinic gebore. Alles het baie goed gegaan,” het Jak oor die koms van sy dogter vertel.

Terwyl Michelle die naweek in die hospitaal deurgebring het, het Jak en Jamie (19 maande) gehalte pa-en-seun-tyd oor die naweek by hul huis in Parys deurgebring.

“Jamie is vreeslik oulik met Mija. Hy gee sy sussie nou en dan ‘n ligte soentjie, maar hy verstaan nog nie regtig waaroor dit gaan nie.” Mija is ‘n samevoeging van Jak en Michelle se name.

Jak het vir die Laerskool Hennopspark spesiaal ‘n revue geskryf ter viering van hul dertigste bestaansjaar. Hy is ook die storieverteller en tree tot Sondag in die Staatsteater saam met die leerlinge op.

Volg Huisgenoot op Twitter.