luiperd-1

Sy is dol oor haar twee teddiebere, maar beesvleis steek haar dwars in die krop.

Tequila, ’n vierjarige jaguar van die Jukani-wildreservaat by Plettenbergbaai in die Wes-Kaap, is vol fiemies oor haar kos en slaapplek.

“Sy is enig in haar soort. Sy is mak en geniet dit wanneer ek met haar sit en gesels,” vertel Jurg Olsen van die wildreservaat.

“Sy is ’n baie spesiale jong dame en het baie beskaafde maniere.”

Maar Tequila is al van kleintyd af vol draadwerk.

“Wanneer ons (om die een of ander rede) ’n welpie self moet grootmaak, voer ons hulle ’n spesiale soort melk,” verduidelik Jurg.

“Op ongeveer vier weke kry hulle maalvleis en melk, en op agt weke  stukke hoender. Tequila het van die begin af geweier om die maalvleis te vreet; sy vreet net die hoender.”

Tequila het nog nooit haar bek aan beesvleis gesit nie, en sal ook seker nooit nie.

“Sy raak letterlik naar wanneer sy beesvleis ruik; sy begin kwyl en loop omgekrap weg,” sê Jurg.

“Tequila is lief vir hoender, maar sy vreet ook perdevleis. As haar kos selfs net geraak het aan beesvleis, sal sy weier om dit te vreet.”

Sy verpes dit ook wanneer mense haar ruimte binnekom.

“Sy is baie vol nukke oor haar slaapplek; net ek mag saam met haar daarbinne wees,” verduidelik hy.

Dié roofdier trek die skaal op 55 kg. Sy is mal oor haar twee teddiebere en “suig aan hulle” wanneer sy by Jurg sit tydens die reservaat se bestuursvergaderings.

Haar beste maats is twee poemas, Inca en Indiana, en ’n Bengaalse tier, Juka.

Jurg sê Tequila is soos ’n ousus vir die twee poemas en speel graag met Juka, al skei ’n heining hulle. Hulle geniet dit om “op en af te hardloop”.

Tequila is op Kersdag 2009 gebore en het maand daarna Jukani toe gekom.

Al lyk jaguars baie na luiperds, is hulle swaarder en stewiger gebou; hul rosette verskil ook van mekaar.

Die rosette op ’n jaguar se vel is groter, minder en gewoonlik donkerder as die luiperd s’n. Hul rosette se buitelyne is ook dikker en het kolletjies binne-in. Jaguars het ’n ronder kop en korter, stewiger ledemate as luiperds.

Die wyfies is op twee jaar seksueel volwasse, en die mannetjies op drie of vier.

Jaguars is opportunistiese diere wat alleen jag; hulle vang hul prooi deur dit voor te lê of te bekruip en dit dan te bespring. Hulle is die derde grootste katte naas die tier en die leeu.

“Die jaguar kan uitsonderlik hard byt, selfs vergeleke met die ander groot katte,” volgens inligting op Jukani se webtuiste.

“Daarom kan hulle die skedel van gepantserde reptiele breek en hul ongewone jagmetode uitvoer: Hulle byt deur die prooi se skedel en bring dit so om die lewe.”