Zimbabwe se nasionale parkeraad het die dood van Theunis Botha, ’n Suid-Afrikaanse professionele jagter, bevestig.

[caption id="attachment_173873" align="alignnone" width="600"]Theunis Botha en sy gesin. Foto: Facebook Theunis Botha en sy gesin. Foto: Facebook[/caption]

Theunis is die naweek dood toe ’n trop olifante sy jaggeselskap naby Hwange, in die weste van die land, bestorm het.

Simukai Nyasha, woordvoerder vir die parkeraad, het aan Zimbabwe se Sunday News gesê dié jagter het Vrydag per ongeluk tydens ’n staptog in die middel van ’n trop olifante met heelparty kalfies beland, wat hulle toe bestorm het.

Volgens Netwerk24 is Theunis dood toe ’n olifantkoei bo-op hom geval het. Die koei het hulle bestorm en een van sy medejagters het uit selfverdediging op haar geskiet, waarna sy op Theunis geval het.

Na bewering was Theunis saam met ’n kliënt toe die voorval plaasgevind het.

Sy liggaam is na ’n hospitaal in Hwange geneem waar ’n lykskouing sal plaasvind.

Medelye het van wyd en syd uit die jaggemeenskap ingestroom vir Theunis se gesin..

Die Gautengse reisgagentskap Africa Big Hunt Booking Agent het op sy Facebook-blad geskryf: “Dit is met groot hartseer dat ons bevestig dat ons mede- professionele jagter en vriend, Theunis Botha, Vrydag in ’n jagongeluk in Zimbabwe oorlede is. Ons medelye en simpatie gaan uit aan Carike en die kinders in hierdie tyd van groot hartseer en verlies.”

Nog ’n lid van die plaaslike jaggemeenskap, Simon Sparks, het op Facebook geskryf, “’n Legende het geval maar sal nooit vergeet word nie, met ’n hartseer hart groet ons jou, Oom Theunis Botha.”

Theunis word oorleef deur sy vrou Carike en hul vyf kinders.