Corey Knowlton van Texas het die renoster Maandag met ’n kragtige geweer geskiet ná ’n jagtog van drie dae deur die bos. Daar was regeringsbeamptes byderhand om te verseker hy skiet die regte dier.

Die 36-jarige, wie se pa ’n privaat energie-onderneming besit, het die reg om die dier te skiet vroeg verlede jaar op ’n veiling in Dallas bekom. Talle omgewingsbewaarders het hom skerp veroordeel en hy het selfs doodsdreigemente gekry.

Corey het ’n kameraspan van CNN op die jagtog saamgeneem om te probeer wys hoekom hy glo die jagtog geregverdig is. Volgens CNN het Corey ná die doodskoot langs renoster gekniel en aan die netwerk gesê: “Dis elke keer ’n emosionele ding as jy ’n dier se lewe neem.” “Ek dink mense het net ’n probleem daarmee dat ek van jag hou,” het Corey gesê. “Ek wil sien dat die swart renoster so oorvloedig is as wat dit kan wees. Ek glo in die oorlewing van die spesie.”

Sedert 2012 het Namibië vyf lisensies verkoop om individuele renosters dood te skiet.

Die land sê die opbrengs van hierdie lisensies word gebruik om bewaringsprojekte en teenstropingsbeskerming te finansier.

Die enigste renosters wat vir die jagtogte gekies word, is oues wat nie meer teel nie en ’n bedreiging vir jonger renosters inhou.

Sy bod om die renoster vrek te maak, het groot omstredenheid veroorsaak. Corey beweer hy moes voltydse sekuriteit aanstel weens doodsdreigemente nadat sy naam op die internet bekend gemaak is.

Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring sê daar was deur die grootste deel van die vorige eeu sowat 850 000 swart rensers lewend voor daar in 1995 net sowat 2 400 oor was weens jag, maar die syfers het sedertdien opgekruip na sowat 5 000.

Die presiese plek van Corey se jagtog is geheim gehou om te voorkom dat stropers wenke kry.

Bronne: CNN, Time, The Independent