Adam was op safari in Afrika toe hy genooi is om ’n jagluiperd met sy kaal hande te voer. Dit het egter in ’n nagmerrie ontaard toe die jagluiperd meteens op die akteur se rug spring. ’n Helper was gou by en het die kat van Adam se rug afgetrek.

Op David Letterman se program het Adam (46) vertel: “Dis ’n ware storie. Hulle het my toegelaat by die jagluiperd en gesê ek kan die dier water met my hande voer. Ek het so gemaak, maar toe loop sake so effentjies skeef. Later het hulle my meegedeel dat ek nie veronderstel was om so laag te buk met die water nie. Ek was baie senuagtig; dit het als so vinnig gebeur.

“Hy het op my gespring en ek het net besluit ek sal maar toelaat dat hy my vreet. Daar was nie ’n manier dat ek sou terugbaklei nie. Ek het so by myselwers gedink: O, so dis hoe ek gaan sterf.”

Die aktrise Cameron Diaz was gelukkiger toe sy met ’n jagluiperd te doen gekry het in die fliek The Counselor, waar haar karakter ’n jagluiperd as ’n troeteldier aanhou.

Volgens ’n bron het die jagluiperd aan die begin rondgestap asof die wêreld aan hom behoort, maar nou hou Cameron (40) as’t ware die leisels vas. Die jagluiperd het mettertyd gelukkig geheg geraak aan haar, want hulle moet ’n hele paar tonele saam verfilm. Daar is selfs ’n toneel waarin hulle ’n bed deel. “Al was daar ’n risiko dat dié gevaarlike dier Cameron kan aanval, was daar die hele tyd dierehanteerders op die toneel om ’n ogie te hou,” het ’n bron gesê.