’n Driejarige seun is die naweek oorlede nadag ’n jagluiperd hom op die bekende filmmaker John Varty se plaas aangeval het.

Die slagoffer was die seun van Jacob en Sophie Pieterse wat op Varty se plaas, Tiger Canyons, naby Philippolis in die Vrystaat woon en werk.

John is veral bekend vir die films Running Wild, waarin Brooke Shields te sien was, Leopard Queen en Tiger Man of Africa.

John het op Facebook van die voorval vertel. “Vrydagaand is ’n groot hoeveelheid alkohol in die behuisingsarea ingesmokkel. Die hek wat die cheetah moet keer om in te kom is oop gelos en die dier het Saterdagoggend by die oop hek ingekom.

“Die slagoffer bly in ’n ander behuisingsarea en moes nie daar gewees het nie.”

Hy gaan voort deur te skryf dat die cheetah die kind aangeval het en ernstige wonde aan sy nek en kop toegedien het. “Al het die dokter in Philippolis vir my gesê daar is min kans op sukses, het ek ’n helikopter gehuur en die seun na die Mediclinic op Bloemfontein gevlieg. Die seun was breindood maar lewend toe hy daar aankom.

“Geen optrede sal teen die cheetah geneem word nie. Die foute wat gemaak is, was menslike foute.”

John sê daar word nou ’n 2,4 m hoë elektriese heining om die behuisingsarea opgerig en dat alle vroue en kinders uit die area verwyder is.

“My diepste medelye aan die ouers van die kind, Jacob en Sophie Pieterse. Aan die einde van die dag is ek verantwoordelik vir my werkers. Ek neem volle verantwoordelikheid. Stap versigtig op die aarde. JV.”

John is in 2012 deur een van sy eie tiere op sy plaas aangeval.