IN NET vyf jaar saam met sy Blou Bul-spanmaats het hy al meer vermag as dit wat vele ander knap rugbyspelers ooit sal regkry: ’n paar keer die Curriebeker gewen, die Super14-trofee twee keer omhoog gehou en ook meer as een keer, soos onlangs weer teen die Sharks, as speler van die wedstryd van die veld af gestap.

Maar nou is dit alles van die vlugvoetige Bulstut Jaco Engels (29) se droomlysie af en moet hy êrens na nuwe uitdagings gaan soek. Die dat hy besluit het om die verrassende sprong te waag om ’n twee jaar-kontrak met die Southern Kings in Port Elizabeth te sluit – ’n span wat rugbyliefhebbers op sy beste as ongevestig sou bestempel.

Die sesde Suid-Afrikaanse Superspan moes pas vir die hoeveelste keer hoor dat hul droom om volgende jaar in die nuwe Super15-reeks te speel, deur ’n Australiese span van die tafel gevee is. Maar selfs dié teëspoed kan Jaco se optimisme nie blus nie.

“As die Southern Kings vanjaar eerste in hul liga is – en dinge lyk tot dusver goed – sal hulle teen die verloorder in die Curriebeker-premiersliga uitspeel om ’n plek in volgende jaar se kompetisie,” vertel Jaco opgewonde met ons kuier by hom en sy gesin in hul huis in Equestria, Pretoria.

Daarna lê die pylvak tot Superrugby oop voor die Kings, glo hy. Teen 2013 sal sy nuwe span ook teen die swakste Suid-Afrikaanse Super15-span kan uitspeel en wen. Dan begin groot dinge vir hulle! En hy wil daar wees om in dit alles te deel, sê die boorling van Oranjemund in Namibië.

“Ek dink Port Elizabeth lê gereed en wag vir Superrugby om in die stad te ontplof. Die Oos-Kaap het geweldig baie rugbytalent, maar nie baie geleenthede nie. Nou gaan alles verander,” vertel Jaco vol selfvertroue, terwyl sy eersteling, Milla (2), oor hom klouter.

Lees die volledige onderhoud in die Huisgenoot van 23 September 2010