Jermaine Jackson (58) sê sy familie is ontsteld oor dr. Conrad Murray se vroeë vrylating uit die Central Jail in Los Angeles.

Murray is in November 2011 vier jaar tronkstraf opgelê weens sy aandeel in Michael se dood in 2009, maar sal nou 28 Oktober vrygelaat word.

Volgens Jermaine is die Jacksons selfs meer ontsteld oor die vrylating as oor die feit dat hul ma, Katherine Jackson, haar hofsaak teen die konsertpromotor AEG Live verloor het. Sy het aangevoer hulle was nalatig toe hulle Murray as Michael se dokter aangestel het.

Jermaine het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê: “Die belangrikste is om die wêreld te laat weet hoe ons hieroor voel. Dit gaan nie oor die geld nie. Die man stap vandeesmaand daar uit. Hy word vrygelaat. Jy maak Michael Jackson dood en ná twee jaar is jy uit, dis aaklig. Ons het seer. Ons het steeds seer. Ons is baie sterk, maar ons is maar net mense.”

Murray se vonnis is na verkort as gevolg van goeie gedrag en oorvol tronke.