Die omstrede dokter, wat skuldig bevind is aan manslag en in November 2011 vier jaar tronkstraf opgelê is nadat hy die propofol aan Michael Jackson verskaf het wat in 2009 sy dood veroorsaak het, se lisensie is in Texas en Kalifornië herroep as gevolg van die misdaad.

Nou vrees die ontslape popkoning se naasbestaandes dat hy iemand anders kan seermaak as hy weer toegelaat word om as ’n dokter te praktiseer.

’n Bron het aan die webtusite TMZ.com gesê die meeste van die Thriller-sanger se familielede voel “beledig en bang” dat hy dink hy het die reg om steeds ’n dokter te wees ná sy roekelose optrede met Michael.

Hulle meen ook die dryfveer agter sy appèl is gulsigheid, maar hulle beplan nie om by enige mediese raad verhore oor sy lisensie te verskyn nie omdat hulle niks meer met hom te doen wil hê nie.

Daar is onlangs berig Conrad, wat verlede Maandag twee jaar vroeër vrygelaat is weens oorbevolking in die gevangenisse en goeie gedrag, sleep die deelstaat Texas hof toe in ’n wanhopige poging om sy mediese lisensie terug te kry sodat hy sy skuld van sowat R4 miljoen kan delg.

Maar sy prokureur het vroeër gesê: “Dr. Murray het ’n onblusbare begeerte om mense te help en ongeag waar dit is, hy sal terugkeer na sy beroep.”