Michael Jackson het glo voor sy dood onthul hy is nie Prince (16) of Paris (15) Jackson se biologiese pa nie. Jason Pfeiffer, ’n vriend van Michael, beweer die koning van pop het ’n paar maande voor sy dood op 25 Junie 2009 erken die Britse akteur Mark Lester (54) is die biologiese pa van die twee oudste Jackson-kinders. Michael se eksvrou Debbie Rowe (ook 54) is hul ma. Die sanger het glo erken hy is net die biologiese pa van sy jongste kind, Blanket (11), wat met behulp van ’n surrogaatma gebore is. Jason het aan die koerant Daily Mirror gesê: “Ek en Michael het dikwels oor ons gesinne en ons lewens gepraat. Eendag toe ons oor sy kinders en Debbie praat, het hy uit die bloute gesê Mark is eintlik sy kinders se pa. Michael het kalm gesê: ‘My vriend Mark het die sperm geskenk.’ “Ek was geskok, maar ek het nie daaraan gedink om verder oor die prosedure uit te vra nie. “Michael het Mark as een van sy beste vriende beskou. Hy het gesê hy is goeie akteur en ’n baie goeie man. Hy het genoem hy het verskeie mense se sperm gekry, maar eindelik op Mark besluit.” Michael het Jason glo in sy vertroue geneem toe Jason hom in Februarie 2009 by die Arnold Klein-kliniek in Beverly Hills besoek het. Hy is vier maande later dood weens ’n oordosis van die narkosemiddel propofol. Jason het bygevoeg: “In die volgende paar dae het die belang van sy bekentenis by my ingesink . . . In daardie stadium het ek baie van wat Michael my vertel het geheim gehou en hy het my vertrou. Ek het nie veel van Mark geweet nie, maar toe hy ná Michael se dood bekendmaak hy dink hy is die kinders se pa, het dit alles sin gemaak.” Hy het voorts gesê Michael sou Debbie se betrokkenheid by Paris en Prince se lewens afgekeur het nadat sy tydens hul egskeiding in 1999 haar reg op toesig laat vaar het. Hy meen Michael sou eerder wou hê dat Mark hulle help grootmaak. Jason het verduidelik: “As Michael geweet het hoe sy kinders se lewens sou uitdraai, dink ek hy sou dit goedgekeur het dat Mark ’n aktiewer rol speel. “Dit sou goed gewees het as Mark in hul lewens was. Hy het self vier kinders en was jare lank getrou aan Michael. As Michael sy sperm gekies het, sou hy wou hê Mark moet betrokke wees.”