Dié Britse skrywer het meer as 30 boeke gepen waarvan meeste die New York Times se gesogte topverkoperslys gehaal het.

Van haar gewildste romans was onder meer Hollywood Wives en The Stud. Sy was lief daarvoor om die glans- en sekslewe van Hollywood en sy inwoners as tema in haar romans aan te spreek.

Hier is ’n paar kitsfeite wat jy moet weet van hierdie geliefde skrywer:

  • Jackie het die feit dat sy borskanker gehad het eers ses dae voor haar dood aan die wêreld bekend gemaak. Haar suster, die bekende Hollywood-aktrise Joan Collins (82) het self eers twee weke gelede daarvan uitgevind. Jackie is glo reeds in 2009 met kanker gediagnoseer. Sy het net haar drie dogters, Tracy (54), Tiffany (48) en Rory (46) daarvan vertel.
  • Jackie het nes haar suster haar loopbaan aanvanklik as ’n aktrise begin. Sy is op 15 uit die skool geskors en het koers gekies Hollywood toe waar haar suster reeds ’n tyd lank gewoon het. Toe sy egter nie daarin kon slaag om enige noemenswaardige rolle los te slaan nie, het sy begin skryf. Haar eerste roman The World Is Full Of Married Men het in 1968 verskyn. Dit was so kontroversieël vanweë die baie eksplisiete seks, dat dit in Australië en Suid-Afrika verban was. Nietemin was dit dadelik ’n topverkoper.
  • Sy het 32 romans geskryf waarvan die laaste een, The Santangelos, in Junie vanjaar gepubliseer is. Verskeie van haar romans is in flieks en TV-reekse omskep.
  • Jackie was ’n paar keer getroud. Haar eerste man was Wallace Austin. Hulle het in 1960 getrou en is vier jaar later geskei. Hulle het een dogter gehad, Tracy. Sy het in 1965 met haar tweede man, Oscar Lerman, getrou. Hulle het twee dogters, Tiffany en Rory gehad. Oscar is in 1992 aan prostaatkanker oorlede. In 1994 het sy verloof geraak aan Frank Calcagnini, maar hy is in 1998 aan ’n breingewas oorlede.
  • Hoewel sy geweet het hoe om op ’n rekenaar te werk, het Jackie gekies om al haar boeke met die hand te skryf. Sy het dan ’n assistent gekry om die handgeskrewe manuskrip oor te tik. Sy het ook gekies om self haar skryfwerk te redigeer en het gereken “as ek ’n fout moet maak, laat ek dit eerder self maak”.
  • Haar pa, Joe Collins, was ’n talentsoeker wat in 1932 met Jackie se ma, Elsa, getroud is. Joe is in Suid-Afrika gebore. Sy ouers was reisende akteurs en het hulle in Suid-Afrika bevind ten tye van sy geboorte. Hulle is terug na Brittanje toe Joe een jaar oud was. Hoewel gebore in Brittanje, het Jackie die grootste deel van haar lewe in Amerika deurgebring.
  • In haar leeftyd het Jackie meer as 500 miljoen boeke verkoop en het ’n geskatte rykdom van R1,2 miljard gehad.

Bronne: AP News; Heavy.com; Deadline; Bustle.com; Wikipedia