HY IS die stout seun van Afrikaanse musiek; hy rap dat die spoeg spat, vloek soos ’n matroos en het g’n saak met wie wat daarvan dink nie.

Jack Parow is sy naam, en vra hom wat rap hy dan nou eintlik, antwoord hy ewe sarkasties: Afrikaanse romantiese rap. Nogal.

Hy’s die ou wat cooler as cool is, die bra wat 28 jaar gelede in Bellville as Zander Tyler gebore is en skoon verslaaf was aan die wondere in die Wonderlandspeletjiesarkade in Tygervallei se winkelsentrum.

Maar dié wat hom goed ken, sal weet, al draai die man g’n doekies om nie en al is sy lirieke gelaai met kragwoorde, is ou Jack eintlik so mak soos ’n lammetjie.

Konflik en baklei is nie dié drinker van Wellington-brannas se koppie brandewyn nie. Dié dat hy reken sommige “ou anties” dink ook deesdae hy is cool, sê hy toe ons kort voor sy vertrek na Nederland met hom in ’n woonwa op die dak van die Grand Daddy-hotel in Kaapstad gaan gesels het.

Hy sit wydsbeen, gemaklik met swart-en-pers Puma-tekkies aan sy voete, in ’n rooi frokkie en blou kortbroek waarop Casper die vriendelike spook pronk – sigaretloos, brandewynloos, maar die alombekende tiervelpet soos ’n mini-afdakkie op sy kop.

Lees die volledige onderhoud met Jack Parow in die Huisgenoot van 17 Julie 2010.