Die Afrikaanse rapper Jack Parow is Donderdag met sy gesteelde Citi Golf herenig amper ses jaar nadat dit weggeraak het.

Jack het aan Channel24 gesê hy was verbaas toe die polisie hom onlangs bel om hom in te lig die motor is opgespoor wat hy by sy ouma geërf het.

Lees ook: Oscar Pistorius se regspan speel dalk hul laaste troefkaart

“Dit lyk heel anders. Alles is vervang en dit is lekker verniel, maar hulle het geweet dit was myne. Hulle het dit aan die enjinnommer uitgeken.”

Volgens die 33-jarige Kapenaar het hy al van sy verlies vergeet en het dit sy geheue verfris toe hy die kar weer sien.

“Dit was lekker om dit weer te sien, want dit het al die herinneringe teruggebring van toe ek en my vriende altyd met die motor na partytjies gegaan het.”

Omdat Jack se versekering uitbetaal het toe die motor in 2010 gesteel is, behoort die motor nie meer aan hom nie.

Lees ook: Skokkende oomblik toe taxi buite beheer raak en omslaan

“Dit was nogtans lekker om die motor te sien en dit op ’n baie goeie tyd terwyl dinge in Suid-Afrika af lyk. Dis lekker om te weet daar is mense wat hul werk doen en dit goed doen. Dis ’n baie goeie ding wat die polisie gedoen het. Ek hoop dit gee ’n mate van hoop vir Suid-Afrika.”

Bron: Channel24