Jack Nicholson kan nie meer in die openbaar vir vroue ogies maak nie.

Die 76-jarige akteur is in sy jonger jare as ’n sekslegende bestempel omdat hy talle vroue bed toe gesleep het. Maar al voel hy nog jonk van gees, sê hy nou dat die vrouegeslag weens sy ouer voorkoms nie meer in hom belangstel nie.

Hy het aan The Sun gesê: “Ek is nog in my hart wild, maar ek kan nie meer in die openbaar by vroue aanlê nie. Ek het dit nie besluit nie, dit voel net nie reg vir my ouderdom nie.”

Jack, wat verhoudings gehad het met die aktrise Anjelica Huston, by wie hy 17 jaar was, die sangeres Michelle Phillips en model Janice Dickinson, sê hy het ’n akteur geword om vroue te beïndruk en sy selfvertroue was op die hoogste wanneer hy vir hulle onweerstaanbaar was.

Hy het gesê: “As mans eerlik is, is alles wat hulle doen en oral waarheen hulle gaan, net om ’n kans te hê om vroue te sien. Vir my het om ’n akteur te wees grootliks daaroor en oor my gegaan.

“Daar was tye in my lewe wanneer ek op ’n vreemde manier onweerstaanbaar vir vroue gevoel het. Ek is nie nou meer in daardie toestand nie, wat my hartseer maak.”

Die ikoniese Hollywoodse ster glo egter dat die ouderdom ook voordele inhou omdat hy ’n verandering in sy persoonlikheid opgemerk het.

Hy het gesê: “Maar ek glo dat baie van die verbeteringe van my karakter deur veroudering en die afname in magte gekom het. Sommige daarvan is nie so wonderlik nie, soos hare wat kom en die hare wat gaan.”