Is jy dapper genoeg?

[caption id="attachment_143129" align="aligncenter" width="600"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

Getroue Dracula-aanhangers kan ’n aand in die vampier se kasteel deurbring – wel, soort van.

Airbnb het onlangs aangekondig die Bran-kasteel in Transsilvanië, die inspirasie vir Dracula se kasteel, is vir Halloween vanjaar op hul lys.

Passievolle Dracula-aanhangers kan hul nek op die spel plaas vir ’n grillerige aand by die legendariese vampier se kasteel. Hul gasheer is Dacre Stoker, ’n verlangse nasaat van Bram Stoker.

[caption id="attachment_143128" align="aligncenter" width="602"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

Op 31 Oktober, Halloween-aand, sal twee gaste die verhaal van Jonathan Harker, die protagonis in Bram se beroemde roman, Dracula, herleef. Hulle sal op ’n perdewa deur Transsilvanië ry terwyl die son sak en die ure van vlermuise en huilende wolwe aanbreek.

Dan sal hulle eindelik die ongelooflike en mistige bergwoning, Bran-kasteel, nader. Die kasteel se geskiedenis dateer terug na die 14de eeu en dit het gedien as inspirasie vir Dracula se kasteel in Bram se gevierde roman.

[caption id="attachment_143127" align="aligncenter" width="600"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

Dacre, ’n gerespekteerde vampierkenner en passievolle voorstander van sy grootoom se roman, sal die gaste ontmoet. Hy sal verhale van ouds vertaal en lig werp op die talle donker geheime van vampierlegendes, waarvan sommige nog nooit vertel is nie.

Hy sal ook die historiese verband verduidelik van hoe Vlad the Impaler as Dracula bekendgeraak en hoe die legende eeue lank voortgeleef het. Dit hang van die gaste af of hulle die stories sal glo of afmaak as mites.

[caption id="attachment_143125" align="aligncenter" width="603"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

“Bran-kasteel is waar die legende van Dracula gebore is, en ek het baie stories om te deel terwyl ek die gaste deur die donker geheime gange van die kasteel lei vir ’n privaat onthulling van sy talle raaisels. Bram het talle verwysings na regte mense en regte historiese staaltjies ingesluit en bevraagteken of vampiere werklik net ’n mite is,” sê Dacre.

Ná ’n reis deur die kasteel se doolhof van donker gange, grillerige hoekies en krakerige trappies, sal die besoekers ’n gang ontdek wat hulle na die groot eetsaal sal lei.

Daar wag ’n intieme kersligete, presies berei soos beskryf word in die roman: ’n hartlike maaltyd van “Robber”-steak (stukkies spek, uie en vleis gegeur met rooipeper en aan stokkies gebraai) en paprika-hoender.

Gaste sal dan alleen gelaat word om in die graaf se grafkelder in weelderige kiste met fluweelafwerkings te slaap. Hulle sal heelnag alleen in die kasteel wees – met die geluid van wolwe wat buite die kasteelmure wandel.

[caption id="attachment_143126" align="aligncenter" width="608"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

Met dagbreek, wanneer die gevaar afneem dat jy vampiere kan raakloop, sal die gaste op die kasteel se terras ontbyt eet terwyl hulle kyk hoe die son oor die pragtige horison opkom.

“Verlede jaar het ons jou genooi om in die katakombes in Parys ’n aand saam met die dooies deur te bring. Nou het die tyd aangebreek om ’n onsterflike legende bekend te stel.

“Een gelukkige paartjie sal die kans kry om die ware gruwels van Dracula se kasteel oornag te beleef, sonder enige silwer of knoffel om hulle te beskerm,” sê Andrew Verbitsky, Airbnb se algemene bestuurder vir sentrale Oos-Europa.

“Dis ’n ervaring wat jy nie mag misloop nie, of jy nou ’n passie vir vampiere of net ’n groot Halloween-aanhanger is.”

Maar let wel, daar is ’n paar huisreëls:

  • Welkom by my huis! Kom gerus binne. Wees veilig en los van die geluk wat jy saambring agter.
  • Pasop! Vampiere is al ná sonsondergang gewaar.
  • Geen knoffel of knoffelgegeurde items word toegelaat nie, parfuum ingesluit.
  • Jy word vriendelik versoek om jou silwerjuweliersware by die huis te los.
  • Dieselfde geld vir alle heilige simbole.
  • Moenie die eetgerei oorkruis laat lê nie. Trouens, moet asseblief nie enigiets in ’n kruisformaat plaas nie.
  • Wees bewus van die vlermuise in die kasteeltoring.
  • Maak seker alle brandende kerse is geblus voor jy bed toe gaan.
  • Maak asseblief voor sonsopkoms alle gordyne toe.
  • Die graaf is nie juis mal oor selfies voor die spieël nie.