Dit volg nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

John Barnard (40) het op altesaam 13 aanklagte skuld beken, insluitend vyf aanklagte van moord en vyf van roof met verswarende omstandighede.

Barnard het voor regter Ratha Mokgoatlheng gepleit en die vonnis ontvang op voorwaarde dat hy ’n staatsgetuie sal wees tydens die verhoor van sy medebeskuldigdes: Marinda Steyn (50), haar kinders, Leroux (21) en Marcel (18), en haar vriende Cecelia Steyn (35) en Zak Valentine (31).

Krugersdorp-moorde: Beskuldigdes grinnik glo in hof

Sou Barnard nie teen hulle getuig nie, sal hy nog 10 jaar moet sit. Cecelia is Dinsdag weer in die landdroshof in Krugersdorp borgtog geweier.

Barnard het skuld erken op aanklagte van bedrog, regsverydeling en van die versuim om die ligging van ’n vuurwapen aan te meld.

Lees ook: Krugersdorpse afspraakmoordverdagtes wou glo mekaar met insekdoder vergiftig

Luidens die klagstaat het John vir die skatryk egpaar, Peter (51) en Joan Meyer (47), wat op 27 November 2015 in hul huis in Ruddstraat 6 in Noordheuwel, Krugersdorp, vermoor is gewerk.

Hy het glo sy mede-beskuldigdes laat glo daar is “miljoene rande” in die egpaar se kluis. Zak, Marinda en Marcel het toegang tot die huis gekry onder die voorwendsel van ’n “sake-afspraak”.

Toe dit blyk dit is nie die geval nie dat daar baie geld is nie, is hulle geweldadig met ’n mes doodgesteek en van ’n selfoon en beursie met R700-kontant beroof. John is in die voorval van roof met verswarende omstandighede aangekla.

In die tweede moord, wat op 18 Desember 2015 die lewe geëis het van die Krugersdorpse straatsmous Jarrod Jackson (42), het hy erken hy het vir Zak, wat sy eie dood versin het, gehelp om ’n vals eis by Discovery Life in te dien.

Zak het ’n lewenspolis van meer as R3,5 miljoen uitgeneem. Jarrod se verkoolde lyk is naby Petrus Steyn in Zak se motor gekry.

Lees ook: Familie verstom toe ‘dooie’ man in die Krugersdorpse landdroshof verskyn

Aanvanklik is gedink dis Zak se lyk, maar dit was inderdaad Jarrod in die motor. Barnard is gevolglik aangekla vir die moord op Jarrod, bedrog en regsverydeling.

Barnard het ook erken hy het Glen McGregor (57) help doodmaak. Die rekeningkundige is op 26 Januarie 2016 op sy hoewe naby Randfontein om die lewe gebring. Barnard is ook van dié moord aangekla, asook dat hy gehelp het om Glen van ’n selfoon en R6 000 te beroof.

Hy het ook erken hy het op 10 Mei 2016 gehelp om die pa en versekeringsmakelaar Anthony Scholefield (64) in Marinda se woonstel te vermoor.

Anthony se lyk is in die bagasieruim van sy silwer Honda CVR gekry. Benewens dié moord, is Barnard ook aangekla daarvan dat hy gehelp het om Anthony se selfoon, skootrekenaar, tabletrekenaar, beursie en R16 600 uit sy bankrekening te steel.

Barnard het erken hy was ook betrokke by die moord op die getroude jong versekeringsmakelaar Kevin McAlpine (29) op 26 Mei 2016. Hy is hiervoor aangekla van roof met verswarende omstandighede.

Kevin is ook in Marinda se woonstel vermoor. Hy is beroof van sy selfoon, ’n skootrekenaar, sy horlosie, sy trouring, sy skoene en ’n bedrag van R1 300.

Vir die moord op die ma en eiendomsagent Hanlé Lategan (52) het Barnard ook skuld beken, asook dat hy gehelp het om haar van haar selfoon, horlosie, trouring, beursie en R3 000 uit haar bankrekening te beroof.

krugersdorp new

In die laaste en 13de aanklag teen hom is hy aangekla dat hy versuim het om die arsenaal wapens en ammunisie aan te meld wat ná Marinda se inhegtenisneming in ’n woonstel by die Cosanna-woonstelblok gevind is.

Sy medebeskuldigdes sal weer almal 27 Januarie in die hof verskyn.

Kapt. Ben Booysen, ondersoekbeampte van provinsiale hoofkantoor se oorlogskamer, het dag en nag gewerk om dié saak te ondersoek en die ooreenkoms met die staatsaanklaer, adv. Paul Schutte, so spoedig moontlik te bereik.