Jennifer Lopez (43) het op Vrydag 7 Junie ’n geheime ontmoeting met Ryan Seacrest (38) gehad. Dit volg te midde van gerugte dat sy gaan terugkeer na American Idol.

’n Ooggetuie het aan die skinderwebtuiste RadarOnline.com gesê: “J.Lo se bestuurder het haar na die kantore gevat. Ryan het op presies dieselfde tyd gearriveer en het allermins gelukkig gelyk dat hy raakgesien is.”

Die sangeres, wat glo ’n baba wil hê by haar kêrel, Casper Smart ( 25), sal waarskynlik weer haar stoel op die beoordelaarspaneel inneem omdat Mariah Carey (43) en Nicki Minaj (30) die talentkompetisiereeks verlaat om op hul onderskeie musiekloopbane te konsentreer.

’n Bron het onlangs gesê: “J.Lo se bestuurder, Benny Medina, het al met Fox begin onderhandel nog voor Mariah en Nicki aangekondig het hulle gaan waai.

“Benny het vir Fox gesê sy wil beslis weer ’n beoordelaar wees. Die onderhandelings is nog maar in die beginfase, maar dis aan die gang.”

Jen is gretig om haar in Los Angeles, Kalifornië te vestig en is op die uitkyk vir kleuterskole vir haar vyfjarige tweeling, Max en Emme – haar kinders uit haar huwelik met Marc Anthony (44).

’n Bron sê: “Die tweeling moet binnekort kleuterskool toe gaan en stabiliteit is in hierdie stadium vir hulle – en vir J.Lo – belangrik. Sy kyk nou uit vir geskikte skole in Los Angeles.”

Volgens gerugte gaan Kelly Clarkson (31) en Jennifer Hudson (31), albei voormalige American Idol-deelnemers, ook lid wees van die beoordelaarspaneel wanneer die reeks later vanjaar hervat.