Woensdag om twaalfuur het hulle die nuus gedeel: Nog ’n trefferliek is aan die kom en dis weer ’n pennevrug van Ivan Botha en Donnalee Roberts.

Dinge gaan soms letterlik stroomop (en selde stroomaf) in die Noord-Kaap wanneer Donnalee en vier vroue ’n avontuur op die Oranjerivier aanpak.

Die fliek word vandag oor ’n jaar uitgereik. Ons kan skaars wag.

Gelukkige Vrouedag ?? ...vandag oor een jaar!!

A post shared by Stroomop Film (@stroomopfilm) on

Die goeie nuus kom sowat ’n week nadat hulle op 3 Augustus aangekondig het hulle is ook op pad kansel toe.
Dit is die eerste fliek wat hulle as paartjie in die regte lewe saam gaan aanpak.

Ivan en Donnalee het in November verlede jaar begin uitgaan en in Mei het hy haar in Nederland die jawoord gevra.

Hy het verlede jaar aan Huisgenoot vertel hy gaan met hul volgende rolprent nie toneel speel nie, maar in die regisseurstoel sit.

Donnalee sal egter steeds toneel speel en die hoofrol in Stroomop vertolk.

Vorige lokettreffers waaraan die twee saam gewerk het

Die paartjie se fliek van 2014, Pad na Jou Hart, en Vir Altyd (2016) was wegholtreffers en albei het ’n plek onder die topvyf suksesvolste Afrikaanse rolprente behaal.

Vir Altyd het boonop loketrekords laat spat met die grootste openingsnaweek vir ’n Afrikaanse fliek.

Donnalee en Ivan was met albei flieks draaiboekskrywers, vervaardigers en hoofspelers.

Hulle het pas hul verhoogproduksie Beurtkrag op die Innibos-kunstefees afgesluit. Hulle het die afgelope jaar landwyd hiermee getoer.

Voorwaar altyd aan die gang, dié twee!