Getuies het die slagting beskryf en hoe van hulle daarin geslaag het om ongedeerd te ontsnap.

Sue Savage het ’n vriendin gaan afsien. Volgens CNN het sy geweervuur, gevolg deur ’n ontploffing gehoor. Nog meer het gevolg.

Sy het skuiling gevind in ’n gebedskamer vir mans, waar sy ’n ander jong vrou aangetref het.

’n Halfuur later was daar nog meer gille en skote. Sy en 30 ander mense is deur die owerheid na die hoofterminaal gelei.

“Daar was baie bloed,” het sy gesê.

Turkye se eerste minister, Binali Yildirim, het gesê in hierdie stadium lyk dit of dit waarskynlik die Islamitiese Staat (IS) is wat vir die slagting verantwoordelik is.

’n Kalashnikov-aanvalsgeweer is op die toneel gevind. Dit wil voorkom asof die aanvallers met ’n huurmotor by die lughawe opgedaag het.

Steven Nabil, ’n Amerikaanse joernalis, en sy vrou was op die lughawe tydens die aanval. Hulle het in ’n kas in ’n haarsalon geskuil.

“Ons het die aanvaller van aangesig tot aangesig gesien terwyl hy die koeëls op Istanboel laat reën het.”

Sy vrou is tydens die aanval beseer.

Beeldmateriaal op sosiale media wys hoe een van die aanvallers in die vertreksaal hardloop terwyl die mense rondom hom vlug. Die polisie het hom geskiet, waarna hy sowat 20 sekondes lank op die grond gelê voor hy homself opgeblaas het.

Al drie aanvallers is dood.

Vlugte is weer hervat, hoewel daar verskeie vertragings en kansellasies van vlugte is.

Bronne: bbc.com, cnn.com, mirror.co.uk

Ooggetuies deel hul nagmerrie-ervaring. Waarskuwing, dit mag sensitiewe lesers ontstel.

Bronne: bbc.com, cnn.com, mirror.co.uk