SY HET die dag ná die ongeluk die dagboek begin hou – net ’n eenvoudige A4-notaboek met haar netjiese onderwyser-handskrif buite op. Binne is bladsye vol boodskappe vir haar seun, die Isidingo-akteur Arno Marais, wat sedert 23 Julie in ’n koma lê nadat hy in ’n motorongeluk was.

“Ek skryf al die boodskappe neer wat mense stuur. Hy kan dit lees wanneer hy wakker word,” sê Corrie Viviers moedig.

Die swelling op sy brein het al gesak, maar nou wag sy ma en sy meisie, die aktrise Michelle Victor, dat hy sy blou oë oopmaak. Die linkerlong van Arno (26), wat die ondeunde Benjamin le Roux in die SABC3-sepie speel, is vergruis en hy is nog aan ’n ventilator gekoppel.

’n Paar dae ná die ongeluk het hy ’n kort rukkie tekens getoon dat hy bewus is van wat hom aangaan. Hy kon nie praat nie weens al die buise in sy keel, maar hy het verstaan wat aangaan en sy kop effens geknik.

“Hy was baie liefdevol en wou ons omhels,” vertel Michelle.

Dis nog onduidelik wat daardie Vrydagaand gebeur het. Michelle het nog elfuur met hom op die foon gepraat voor hy by sy kothuis in Centurion weg is om McDonald’s te gaan koop.

“Hy was bekommerd omdat ek ná ’n vergadering moes huis toe ry. Ek het hom gebel toe ek by die huis kom, maar hy het nie geantwoord nie. Ek het gedink hy slaap. Toe bel sy ma. Ek het dadelik geweet dis slegte nuus.’’

Michelle het hospitaal toe gejaag en by hom gebly totdat hy na die teater gestoot is. “Ek het glasskerwe van hom afgehaal,’’ vertel sy.

Arno se gesig is beseer, maar die dokters is optimisties dat hy nie letsels sal oorhou nie.

Corrie was al in die bed in haar huis in Bloemfontein toe die bestuurder van ’n insleepvoertuig bel en vra of ’n wynrooi Golf – wat amper onherkenbaar verfrommel is – aan haar seun behoort.

“Ek onthou net ek het ’n paar familielede gebel en dadelik ’n bus Pretoria toe gehaal,’’ vertel sy.

Niks kon haar daarop voorberei het om haar seun bewusteloos in die hospitaal te sien lê nie. “Dis aaklig om hom te sien met al daardie pype wat by sy lyf uitkom. Dis net mooi die teenoorgestelde van hoe Arno is – lewenslustig en aan die gang.”

Hulle is baie na aan mekaar en het mekaar feitlik elke dag gebel. “Ek wil so graag hê daardie foon moet weer lui. Maar daardie dag sal kom,” sê sy vol vertroue.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 12 Augustus 2010