Die akteur Tom Hiddleston het kritici se mond gesnoer wat volhou sy liefdesverhouding met Taylor Swift is ’n publisiteitsfoefie. Die Avengers-ster het met die Bad Blood-sangeres begin uitgaan weke nadat sy in Mei met die platejoggie Calvin Harris uitgemaak het. Calvin was net langer as ’n jaar haar kêrel. Die twee het onlangs in Australië gekuier waar die Brit werk aan sy nuwe rolprent, Thor: Ragnarok. Hul verhouding lyk so oordadig romanties dat baie mense wonder of dit eg is, maar Tom het skeptici verseker hy en Taylor is inderdaad smoorverlief.

“Die waarheid is ek en Taylor Swift is saam en ons is baie gelukkig,” het hy aan The Hollywood Reporter gesê. “Dankie dat julle gevra het.”

Net om dit duidelik te maak, het Tom beklemtoon: “Dis die waarheid. Dis nie ’n publisiteitsfoefie nie.”

Die akteur se openbare liefdesverklaring het die nuus gehaal ’n dag nadat sy in ’n twis met haar eks gewikkel was oor sy nuwe treffer saam met Rihanna. ’n Verteenwoordiger van Taylor se bestuurspan het bevestig sy het die liedjie This Is What You Came For geskryf al het sy blykbaar haar rol in die skryfproses geheim gehou en ’n skuilnaam gebruik. Die reklameagent se geskrewe onthulling het Calvin so ontstel dat hy Woensdag op Twitter stoom afgeblaas het. Nadat hy erken het Taylor het die lirieke geskryf, het hy getwiet: “Maar ek het die musiek geskryf, die liedjie vervaardig, dit verwerk, en die lirieke gesny. En aanvanklik wou sy dit geheim gehou het; vandaar die skuilnaam. Dit maak my seer dat sy en haar span nou so baie moeite doen om mý . . . te laat sleg lyk.”

Calvin het nog persoonliker geraak en die aandag gevestig op Taylor se nuwe verhouding met Tom en haar beweerde vyandskap met haar medepopster Katy Perry in nog toornige boodskappe. “Ek skat jy is gelukkig in jou nuwe verhouding. Spits jou liewer daarop toe as om jou ekskêrel af te kraak . . .,” het die DJ voortgegaan. “Ek weet jy toer nie nou nie en jy het iemand nuuts nodig om te probeer begrawe soos Katy, ens., maar ek is nie daardie ou nie, jammer. Ek sal dit nie toelaat nie. Konsentreer asseblief op die goeie aspekte van jóú lewe, want jy het ’n goeie een verdien.”

© Cover Media