Scarlett Johansson gaan dalk Oscar-geskiedenis maak. Altans, haar stem kan.

Die aktrise vertolk die rol van Samantha, ’n gevorderde bedryfstelsel in die futuristiese liefdesverhaal Her, wat vandeesweek sy debuut in New York gemaak het. Wat dié rol egter ongewoon maak, is dat Scarlett nie een keer in die fliek te sien is nie. Tog betower haar stem die kritici.

Scarlett (28) kry dit reg om aan ’n liggaamlose stem teerheid en verleidelikheid te verleen, aldus Huffington Post.

Joaquin Phoenix (38) vertolk die rol van Theodore Twombly, wat in die Los Angeles van die toekoms woon en op Samantha verlief raak. Die grootste uitdaging vir die regisseur, Spike Jonze, was om die verhouding tussen Theodore en Samantha geloofwaardig te maak. Die fliekresensent Scott Foundas meen Scarlett het uitstekend daarin geslaag om dié verhouding geloofwaardig te maak.

“Dis Johansson wat die bedrieglikste deel regkry: Sy skep ’n ingewikkelde, geloofwaardige karakter – sonder ’n lyf van enige aard,” skryf hy op variety.com. Sonder haar “gevaarlike kurwes”, kry Scarlett dit steeds reg om verleidelik, liefhebbend, moederlik en koesterend te wees. Haar verleidelike stem dra beslis ook hiertoe by, meen Scott.

Die vraag is egter of hierdie optrede genoeg is om die jawoord te kry vir ’n Oscar-benoeming. Die fliek se vervaardiger, Megan Ellison, glo Scarlett verdien die eerbewys, berig Channel24.