Prins Harry en sy eksmeisie Cressida Bonas is Dinsdagaand in ’n kroeg herenig.

Die Britse koninklike het sy 31ste verjaardag op 15 September met ’n partytjie saam met 20 van sy beste vriende en vriendinne in die Cross Keys-kroeg in Chelsea, Wes-Londen, gevier.

Cressida, wie se pad na bewering enkele dae gelede van dié van haar akteursvriend geskei het, was onder die gaste, en, volgens toeskouers, was sy en prins Harry duidelik nog baie intiem.

“Die partytjie het so agtuur se kant begin en het tot ongeveer halftwee die oggend aangehou. Daar was selfs ’n verjaardagkoek met vuurwerk wat daaruit gekom het,” het ’n bron aan The Sun vertel.

“Cressida en ’n vriendin het omstreeks halftien opgedaag, by die kroeg gaan staan en blykbaar op Harry gewag.

“Sy was die res van die aand daar by hom en sy binnekring, en dit wys hoe intiem hulle is.”

Daar word geglo dat Harry in iets soos ’n liefdesdriehoek vasgevang is, aangesien dié vrygesel na bewering met nog ’n eks, Chelsy Davy, ’n verhouding aangeknoop het op ’n onlangse reis na Afrika.

Dit lyk egter asof Cressida tans ’n goeie houvas het op Harry se hart.

“Dit is nog baie vroeg en Harry weeg sy opsies teen mekaar op, maar hy het duidelik nog gevoelens vir Cressida,” het die ingeligte verklap. “Harry wil graag sy verhouding met Cressida nog ’n kans gee.”

Gerugte doen die ronde dat Chelsey dit moontlik heel sportief sal aanvaar as Harry en Cressida herenig.

“Dit gaan natuurlik nie lekker wees vir Chelsey nie, maar sy bly op goeie voet met Harry,” het die bron verduidelik.

“Daar is beslis gevoelens daar ook, maar ’n verhouding met Cressida blyk meer prakties en realisties te wees. Chelsea wou nooit ’n koninklike lewe lei nie.”

© Cover Media