In ‘Moordenaar’ kyk die skrywer, adv. John Bauer, luidens ’n verklaring van die uitgewer Publishing World SA saam met lesers “uit ’n nuwe perspektief na ’n saak wat die wêreld geruk het en besluit dan self… Is Oscar Pistorius ’n moordenaar?”

’n Bybelvers – Eksodus 20:13 (‘Jy mag nie moord pleeg nie’) – is die sentrale tema waarom dié boek draai en John, ook ’n lid van die Christelike Prokureursvereniging, vra of woede en vrees vir Oscar gedryf het en of hy ’n hulpelose gestremde of narsistiese kansvatter is.

In dié boek, wat Woensdag in Krugersdorp bekendgestel word, vra die advokaat ook of die geloofwaardigheid van die Suid-Afrikaanse regsproses met die verloop van Oscar se hofsaak benadeel is.

Sy opinie, meen John, is “belangrik” en “aangewese”, want dit berus nie op “emosies” of ’n “sesde sintuig" nie.

Lees ook: ‘Reeva is dood omdat Oscar ’n fout gemaak het,’ skryf Henke Pistorius in roerende brief

Die voormalige Paralimpiese lemnaelheld het op 14 Februarie 2013 sy modelmeisie, Reeva Steenkamp, in sy luukse huis in Pretoria doodgeskiet en sedertdien aangevoer dat hy haar daardie noodlottige oggend vir ’n inbreker aangesien het.

Joernaliste, fotograwe en kameramanne het vanoor die uithoeke van die wêreld gestroom toe Oscar tereggestaan het vir die moord op Reeva en ná hy in September 2014 aan strafbare manslag skuldig bevind is, stoom die regsproses nog voort.

Eers het die appèlhof beslis regter Thokozile Masipa moes hom eerder aan moord skuldig bevind het en toe dié regter hom ses jaar vir die moord op Reeva vonnis, het die nasionale vervolgingsgesag weer geappelleer in ’n poging om vir Oscar langer agter tralies te hou.

Selfs mense wat nie die omstrede saak gevolg het nie, sal die boek fassinerend vind, meen die uitgewer.