As jy e-posse of ’n Facebook-boodskap ontvang waarin “Oscar Pistorius” jou vra om by te dra tot sy regskoste, hou verby!

Misdadigers probeer die afgelope tyd geld uit Oscar se ondersteuners maak deur vals webtuistes te skep en e-posse te sirkuleer waarin donasies gevra word om die Paralimpiese atleet se finansiële las te help verlig.

Anneliese Burgess, die Pistorius-familie se woordvoerder, het in ’n verklaring gesê die webtuistes en e-posse is deel van ’n bedrogspul en Oscar se publisiteitsspan probeer reeds weke om die webtuiste te laat sluit, berig Beeld.

Op die Facebook-blad, wat blyk of dit intussen verwyder is, vra sogenaamde “verteenwoordigers van Oscar” dat “alle vriende van Oscar Pistorius dit in hul hart vind om geldelik by te dra.

“Alle bydraes sal terugbetaal word sodra die eiendom verkoop is.”

Die luukse woning waarin Oscar sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar doodgeskiet het, is ook onlangs op die mark gesit om Oscar se regskoste te help dek.

Die eiendom is na bewering vir sowat R5 miljoen gewaardeer.

Bron: Beeld