Die vermaaklikheidsgrootbaas Louis Walsh reken One Direction is vir goed uitmekaar.

Louis – wat in 2010, toe die seunsgroep gestig is, ’n beoordelaar was op The X Factor (UK) – glo Liam Payne, Niall Horan, Louis Tomlinson en Harry Styles sal nie weer in minstens ’n dekade saamwerk nie.

Toe die bestuurder van Westlife en Boyzone verlede Donderdag tydens ’n onderhoud met The Telegraph gevra is of hy dink 1D is geskiedenis, het hy geantwoord: “Ja, ek sou so sê.”

Hy reken hulle was die “beste ding wat geldgewys uit The X Factor gespruit het”, maar voeg by: “Dis verby, hulle het hul beurt gehad, als verby. Dit was ’n wonderlike loopbaan, maar dis klaar.”

Louis voorspel ook die groeplede gaan nie op hul eie so suksesvol wees soos hulle dink nie. “Van hulle het die ophef geglo, maar toe was almal om hulle – publisiteitsagente, agente, bestuurders – te bang om hulle in te lig, want hulle was besig om so baie geld uit hulle te maak.”

Hy dink ook 1D vergeet, nes al die kunstenaars wat ná The X Factor sukses behaal het, dikwels waar hulle vandaan kom en dat hulle hul loopbaan aan Simon Cowell te danke het.

“Simon het van baie mense miljoenêrs gemaak, maar nie almal is lojaal teenoor hom nie. Ons skep monsters in die musiekbesigheid. Hulle raak net beroemd omdat hulle deel was van die opvoering en ons het vir hulle daai liedjies gekry. Hulle is gelukkige f******, maar party van hulle kry ’n gevoel van geregtigheid en hulle glo die ophef. Te veel kunstenaars vergeet waar hulle vandaan kom.”

© Cover Media