Tiaan en Mynhardt doenig in die Kokkedoor-kombuis.

Sjoe! Die drama in gisteraand se episode van Kokkedoor het omtrent kookpunt bereik toe Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert, die wenners van vandeesweek se uitdaging, hul prys – immuniteit in ’n volgende episode – aan Magda Johnstone en Toitnette du Toit skenk.

Mynhardt het met Huisgenoot gesels oor die rede vir die onverwagse skuif, ander deelnemers wat hulle van bybedoelings beskuldig het en hoekom hy spyt is oor die besluit.

Was die besluit eenparig? Wie se idee was dit?

Ons het gewonder daaroor. Daar was tye dat Tiaan onseker was en tye dat ek onseker was, maar toe gee ons dit net weg.

Hoekom het julle nie die immuniteit gehou nie?

Dit was naby aan die einde van die reeks en ons was baie bang die immuniteit maak ons lui. Ons wou dit weggee sodat dit ons op ons tone kon bly.

Hoekom het julle dit vir Magda en Toitnette gegee?

Ons wou ’n span seën met ’n kans en ons het geweet Magda en Toitnette wou regtig bly. Hulle het verdien om dit te kry. In die volgende episode het hulle gekook dat die biesies bewe, so dit het hulle ook aangespoor.

Julle het die immuniteit prysgegee nog voor julle geweet het watter spanne is in gevaar. Dink jy Magda en Toitnette sou huis toe gegaan het?

Jong, ons het ’n groot kans gevat, maar ons het besluit om dit te doen en deur te voer. Ons wou net seker maak hulle is veilig.

Wat was Magda en Toitnette se reaksie weg van die stel?

Hulle wou dadelik weet hoekom ons hulle wou red. (Lag.) Almal het gedink daar is bybedoelings, maar dit was glad nie die geval nie. Ná die verduideliking was hulle baie dankbaar.

Was julle bang julle word gekritiseer as julle die immuniteit hou?

Eerstens was almal verras dat ons dit kon weggee, want net voor dit was ons eerste gedagte dat ons definitief daaraan gaan vasklou indien ons dit sou wen. Maar ons het vinnig besluit ons wil dit weggee. Hoe meer jy gee, hoe meer kry jy; dit was die regte ding om te doen.

Is julle spyt oor die besluit?

Ja, ja, ja! (Lag.) Ek kan natuurlik nie te veel sê nie, maar in ’n volgende taak het ek en Tiaan gedink ons is ongelooflik goed voorbereid... en toe is ons glad nie.

- Kokkedoor is Donderdae, 20:00, op kykNET

KLIK HIER vir foto's van episode 8.