Dit is nie onredelik om te verwag die geskiedenis van jou boodskap verdwyn van jou foon wanneer jy ’n gesprek uitwis nie – gegewe die feit dat WhatsApp onlangs gefokus het op privaatheid met die bekendstelling van end-tot-end-enkripsie.

Onlangse verslae het egter aan die lig gebring dat pleks van boodskappe behoorlik uitwis, behou die app ’n herinnering aan gesprekke wat wetlik deur die gebruik van forensiese gereedskap of deur enigiemand met toegang tot die toestel, opgeroep kan word.

via GIPHY

“Jammer, hoewel die deskundiges beweer die enkripsie in WhatsApp is voldoende, lyk dit of die jongste weergawe van die app forensiese bewyse agterlaat van al jou gesprekke, selfs nadat jy dit uitgewis, skoongemaak of na die argief gestuur het. Selfs al gebruik jy die Clear All Chats-funksie,” het die iOS-navorder Jonathan Zdziarski in ’n onlangse blog geskryf.

“Om die waarheid te sê, die enigste manier om daarvan ontslae te raak, blyk te wees om die app heeltemal te verwyder.”

Volgens die inskrywing het Jonathan skyfbeelde wat uit die mees onlangse weergawe van die app gehaal is, ondersoek en ontdek die sagteware het ’n forensiese spoor van die gesprek-logs behou en gebêre, selfs nadat die gebruiker dit uitgewis het.

Dit skep waarskynlik ’n forensiese spoor van inligting wat deur enigiemand wat fisieke toegang tot die toestel het, herwin kan word.

Jonathan het egter verduidelik WhatsApp “probeer nie ooglopend om doelbewus data te behou nie, hoewel die rekord self nie skoongemaak of uitgevee word van die databasis nie, maar dit laat ’n forensiese artefak agter wat later herwin en tot sy oorspronklike vorm herkonstrueer kan word”.

WhatsApp het in April vanjaar ’n sogenaamde end-tot-end-enkripsiefunksie bekendgestel wat draers en ander tussengangers verhoed om op gesprekke te spioeneer terwyl hulle oor die netwerk versprei.

Die nuwe bevindings gaan egter oor wat met boodskappe gebeur nadat dit jou foon bereik – veral wanneer dit op die foon se hardeskyf of by iCloud geberg word. Self al word die boodskappe deur die WhatsApp as uitgewis gemerk, is dit nog nie oorskryf nie en is dit dus steeds herwinbaar met forensiese gereedskap, verduidelik Jonathan.

“Wetstoepassers kan moontlik ’n lasbrief uitreik aan Apple om jou uitgewiste WhatsApp-log te bekom, wat uitgewiste boodskappe kan insluit,” verduidelik Jonathan. “Dit kom basies daarop neer dat tydelike kommunikasie nie tydelik op die skyf is nie.”

Hoewel dit egter met baie privaatheidsbeloftes bots wat in die verlede deur die maatskappy gemaak is, verduidelik Jonathan hierdie onthulling behoort gebruikers nie te verbaas nie.

Die meeste van alle boodskap-apps laat dataspore agter wat herwin kan word en hy waarsku dat mense daarvan bewus moet wees dat hul gesprekke geberg word, self nadat dit uitgewis is.

– Lindsay de Freitas

Bronne: wired.co.uk, zdziarski.com, telegraph.co.uk