Hoe gemaak as jy vermoed jou kind is allergies? Die eerste stap is om ’n volledige doktersondersoek te laat doen. Die dokter kan dan ’n allergietoets aanvra – daar is twee algemene soorte allergietoetse.

Die velpriktoets

  • Hierdie toets word op die vel gedoen om die allergeen (dit wat die allergiese reaksie veroorsaak) te identifiseer.
  • ’n Klein hoeveelheid van die (vermoedelike) allergeen word op die vel geplaas. Dit sal waarskynlik in ’n verdunde vloeistofvorm op die voorarm of rug geplaas word.  Die vel word dan liggies op daardie plek met ’n steriele instrument geprik; dit behoort nie pynlik te wees nie. As die vel rooi word, en veral as dit swel, is die toets positief en is die pasiënt waarskynlik allergies vir dié allergeen.
  • Die uitslae behoort binne 15 minute beskikbaar te wees. Daar word gewoonlik vir drie tot ses allergene op ’n slag getoets.
  • Voordele: dit is vinnig, goedkoper as ’n bloedtoets, eenvoudig en relatief veilig.

’n Bloedtoets

  • ’n Klein hoeveelheid bloed word uit die arm getrek en na ’n laboratorium gestuur om getoets te word. Die algemeenste soort bloedtoets word gedoen om te bepaal hoeveel daar van ’n spesifieke soort teenliggaampie vir ’n sekere allergeen is. Die teenliggaampies word IgE (dit staan vir immunoglobulien E) genoem. Hoe meer IgE-liggaampies vir ’n sekere middel daar is, hoe groter is die kans dat jy allergies is.
  • Voordele: Dit is goed vir mense met veltoestande soos ekseem, wat nie priktoetse kan ondergaan nie. Dit is ’n gestandaardiseerde toets, is akkuraat en kan vir ’n groter verskeidenheid allergene gedoen word.

Wie voer die toetse uit?

  • Spesialiste soos oor-, neus- en keelspesialiste, pulmonoloë of interniste voer die velpriktoetse uit.
  • Toetsdienste of laboratoriums soos PathCare of Ampath voer die bloedtoetse uit.

Dr. Adelaide Andrade, ’n algemene praktisyn van Kaapstad wat weekliks vir Huisgenoot en YOU rubrieke skryf, verduidelik dat die toetse deur ’n dokter aangevra moet word. “Ons doen eers ’n siftingstoets – ook deur middel van bloed – en neem ’n volledige geskiedenis oor die moontlike aard van die allergieë af.” Die geskiedenis sluit in faktore soos simptome, gereeldheid van die allergiese reaksies, familiegeskiedenis, infeksies. Adelaide verduidelik die pryse vir die toetse sal verskil, afhangend van vir hoeveel allergene daar getoets word.

Op watter ouderdom moet kinders getoets word?

Praat met jou kind se dokter, maar Adelaide stel voor jy wag tot jou kind twee jaar oud is, aangesien allergietoetse gewoonlik dan eers betroubaar is.

- Suzaan Hauman

Bronne: Webmd.com, health24.com, medicinenet.com