Doen navorsing

Besoek die skool se webtuiste en kyk na die akademiese, sport- en sosiale aktiwiteite wat hulle bied. Oorweeg hul geskiedenis: Waarvoor is die skool bekend – akademie of sport? Het hulle ’n hoë slaagsyfer of leerders wat op universiteit uitblink?

Praat met iemand wat die skool se waardestelsel ken, en vra raad oor die stelsel se geskiktheid. Indien moontlik, besoek die skool saam met jou kind en vorm jou eie mening.

Skole het dalk ’n trotse akademiese of sportrekord en kies dalk om van enige negatiewe kritiek af weg te skram. Kyk na mediaberigte oor die skool oor kwessies soos vernederende en mishandelende oriëntasiepraktyke.

Kies die geskikste skool

Presteer jou kind in ’n spesifieke sport, soos rugby of sokker, of is jou kind ’n ontluikende dans- of sangsensasie? Jou kind kan goed vaar by ’n skool met ’n uitstekende rekord in hul belangstelling – byvoorbeeld ’n kunsskool of sportakademie. Hulle sal toegang hê tot wonderlike geriewe en binne stapafstand van die skool wees, wat pendel uitskakel. “Sport moenie die fokus oorneem van akademiese prestasie of kinders uit ’n gelukkige huisomgewing neem nie,” sê Thuli Bottoman, ’n maatskaplikewerkbestuurder by die The Family Life Centre in Johannesburg. “As deelname aan sport vir die kind belangrik is, kan jy eerder ’n oplossing vind waar hulle na sportgeleenthede geneem kan word en dan weer gaan haal word.”

Party kosskole is gesentreer rondom ’n bepaalde godsdienstige etos, en jou kind sal tydens hul tyd daar daaraan moet voldoen. Maak seker jy bespreek dit met jou kind sodat hulle weet wat van hulle verwag word, en respekteer hul voorkeur.

Die soort skool

Sommige kosskole onderrig seuns en meisies saam, terwyl ander enkelgeslagonderrig bied. Dit is ’n belangrike oorweging; dit sal ’n skaam kind se sosiale interaksie min help as hulle in ’n enkelgeslagskool is. Vir ander kinders is dit dalk weer beter vir hul fokus.

Hoe onafhanklik is jou kind?

Jou kind sal onafhanklik moet wees as hulle weg van die huis af is. Hulle sal hul besittings moet oppas, self moet opruim en hul tyd en geld leer bestuur. Hulle sal ook stiptelik moet wees en vinnig leer werk. Jou kind sal ook leer sosialiseer en bevoeg raak met vriendskappe bou. Om reeds op skool onafhanklikheid te ontwikkel kan ook die oorgang na tersiêre opleiding vergemaklik.

Finansies

Beplan jy om jou kind na ’n nabygeleë kosskool te stuur, waar hulle naweke huis toe kan kom, of ’n skool in ’n ander provinsie, waar hulle net tydens vakansies kan kom kuier?

’n Openbare kosskool is dalk bekostigbaarder as ’n privaat een. Pryse wissel tussen R10 000 en R40 000 per jaar net vir losies, terwyl privaat skole vanaf R80 000 per jaar vra afhangend van die skool en die provinsie.

Jy moet ook dink aan vervoer van en na skool, asook sakgeld vir jou kind. Jy moet ook dink aan verpligte versekering wanneer jou kind aan sport deelneem, of geld wat jy moet bestee aan skooluitstappies.

Vind ook uit of daar beurse beskikbaar is. Kosskole stuur gewoonlik verteenwoordigers na skole met inligting oor toelating en finansiële bystand.

Dit is dalk die beste om te spaar en eers jou kind kosskool toe te stuur wanneer jy genoeg geld het. Werk ’n begroting vir jou kind uit. Bespreek hoeveel hulle vir hul persoonlike behoeftes nodig het en maak seker hulle kommunikeer met jou.

Blootstelling aan ongewenste gedrag

Kosskole is nie sonder slegte invloede nie; jou kind sal dalk blootgestel word aan boelies of ongewenste gedrag, soos dwelm- of alkoholmisbruik.

Jy moet maniere vind om so betrokke moontlik te wees – praat gereeld met jou kind oor hul vriende en die uitdagings wat hulle dalk by die skool in die gesig staar. Sodra hulle by die skool is, moet jy op die uitkyk wees na tekens dat jy bekommerd moet wees. “Dit sluit in dat jou kind nie op hul studies konsentreer nie, nie in die klas, met sport of aan buitemuurse aktiwiteite deelneem nie of nie vriende maak nie. Jou bekommernisse moet met die hulp van die skool hanteer word,” sê Barbara Harmel, ’n sielkundige van Johannesburg.

- Vida Li-Sik