Pia Mia

Oe, hier kom drama!

Kim (33) is glo lekker jaloers op haar verloofde se nuwe jong protégé, die 17-jarige sangeres Pia Mia.

Kanye (36) en Pia werk al die afgelope paar maande saam. Die rapper vervaardig liedjies vir haar en is glo baie betrokke by haar musiekloopbaan, verklap iemand in die binnekring. “Hy glo sy is die volgende Rihanna.”

Pia - haar regte naam is Pia Ajdba Mia Perez, is pelle met Kim se 16-jarige halfsussie, Kylie Jenner. “Kanye het dit aan almal duidelik gemaak dat hul verhouding streng professioneel is,” sê die bron. Maar hul hegte band laat steeds die tonge klap. ’n Bron wat vroeër vandeesmaand saam met Pia op ’n fotosessie in Los Angeles gewerk het, sê die Yeezus-rapper het haar gebel en die gesprek tussen hulle was “ietwat flirterig en romanties. Hulle is dalk net goeie vriende, maar dit was beslis meer as net ’n werkoproep.”

Kanye dink Pia is jonk en modern en is net reg vir sy teikenmark. Dis dié dat hy skoon haar raadpleeg oor baie van sy kreatiewe projekte. “Kanye se kreatiewe span was baie geskok oor hy ’n tiener as vertroueling het. En Kim was ook ietwat ontsteld daaroor, want hy vra nooit haar opinie oor ontwerpsake nie. Sy was ’n bietjie jaloers.”

En sy sal ook nie bly wees dat hy Kylie en haar ander halfsuster, Kendall Jenner (18), saamnooi wanneer hy met Pia uithang om ook hul mening oor projekte te kry nie. Volgens gerugte is Kim glo lekker jaloers op Kendall omdat haar modelloopbaan vlam vat.

Haar jonger sussies gaan glo deel van haar gevolg wees op haar troudag, maar Kim is glo doodbang dat Kendall haar kollig gaan steel – nes Pippa Middleton gedoen het op haar suster, Kate, en prins William se groot dag. Kim is boonop ook jaloers op Kylie en haar jeug, verklap ’n skindertong.

“Sy wens sy was so jonk en sorgvry soos Kendall en Kylie. Kim sê sy voel oud, vet en lelik. Sy is vrek jaloers! Kylie is jonk, mooi en die kamera is mal oor haar. Kim wens sy was 15 jaar jonger, maar daardie dae is lankal verby.”

Luister hier na Pia Mia se nuwe liedjie Fight For You (met Chance The Rapper), wat op die klankbaan van die nuwe fliek Divergent is.

youtube.com/watch?v=KeUJTwRpjMY