Vra maar die 41-jarige Londense ma wat onlangs toesig oor haar twee seuns verloor het nadat ’n regter beslis het haar “toegeeflike ouerskapstyl” rig haar kinders skade aan.

Haar twee seuns van 11 en 14 kon na hartelus skool misloop en heeldag rekenaarspeletjies speel, terwyl hul ma in haar bed lê en op haar tablet of selfoon speel.

Jou toegeeflike ouerskapstyl gaan jou nie noodwendig in die hof laat beland nie, maar dit kan jou kinders se ontwikkeling belemmer, sê  Stephanie Dawson-Cosser, ’n gesinsberader van Johannesburg.

Hoekom moet ek nie my kind se maat wees nie?

  • “Iemand van jou kind se portuurgroep behoort sy maat te wees,” sê Stephanie. As jy probeer om jou kind se maat te wees, gaan jou kind jou nie ernstig opneem wanneer jy wel soos ’n ouer optree nie, verduidelik sy.
  • “Kinders assosieer nie hul vriende met verantwoordelikheid en dissipline nie. As jy soos ’n maat optree en dan skielik jou kind wil berispe, gaan dit ondoeltreffend wees.”
  • Die lewensafrigter Loni Gildenhuys van Pretoria stel voor dat ouers op meer gepaste maniere tyd met hul kinders deurbring, soos om saans saam aandete te eet. “Dit is goed en wel om jou kind te wil verstaan en aanklank by hom te wil vind, maar jy moet dit binne die regte ruimte doen,” sê sy.
  • “Jy kan byvoorbeeld ’n gesprek met jou kind hê oor ’n maat van hom se meisie, maar behoort nie intieme besonderhede te bespreek en in te willig tot jou seun se opmerkings oor haar mooi lyfie nie.”

Hoe gemaak as my kind dink ek is ouderwets?

  • “Jou kind kan in sy vroeë tienerjare die grense begin toets en jou verkwalik as hy nie sy sin kry nie, maar jy moet by ouerskapsbeginsels staan,” sê Stephanie. As hy ontsteld is omdat hy ’n inkomtyd het, nie sekere flieks mag kyk of na ouderdomsbeperkte klubs mag gaan nie, moet jy hulle laat verstaan jy sê nie nee om hulle te straf nie, maar om hul belange te beskerm.
  • “Leer hulle om jou oordeel te vertrou deur hulle iets beter te bied in ruil vir dit wat hulle moet prysgee.” Pleks van Saterdagaand tot tweeuur uitbly, kan jy voorstel dat jy en jou kind Sondagoggend vroeg opstaan en ’n lekker ontbyt gaan eet. Stel voor dat julle ’n ander, gesinsvriendelike fliek saam geniet of help jou kind met sy huiswerk.

Stel die grense so

  • “ ’n Ouer moet as ’n beskermer optree. Op kinders se vlak gaan beskerming nie saam met vriendskap nie; jy kan dus nie tegelyk albei wees nie,” sê Loni.
  • Stephanie verduidelik dat kinders floreer wanneer hulle ’n roetine het. “Om te weet wat volgende in hul dag gebeur, gee hulle sekuriteit.” Daarom is dit belangrik om konsekwent te wees in dit wat jy toelaat en om vaste reëls te hê.
  • Sy sê kinders onder vyf moet geleer word hul dade het gevolge. “Die vroeëtienerfase is soos ’n tweede rondte van dié leerfase. Hulle moet van voor af gewys word hul dade het gevolge. Neem voorregte weg as hulle ongehoorsaam is.”

Moet ek en my kind Facebook-vriende wees?

Dinesh Balliah, ’n nuwe- en sosialemediadosent aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê ouers kan hul kinders as vriende op sosiale netwerke hê, maar hulle moenie dink dit gaan hulle toegang tot hul kinders se privaat lewe gee nie. “Ouers moet besef as kinders iets wil wegsteek, sal hulle ’n manier vind.” Dit moet dus nie as ’n ouerskapmetode gebruik word nie.

- Mieke Vlok