“Is jy ****** mal?”

Dit het Darren Fresco sy vriend Oscar Pistorius gevra nadat Oscar glo ’n skoot vanuit ’n bewegende voertuig afgevuur het.

Darren het vanoggend begin getuig nadat die patoloog prof. Gert Saayman klaar getuig het.

Darren, Oscar en Oscar se eksmeisie Samantha Taylor was op pad terug van die Vaalrivier na Johannesburg toe Darren by Laurieweg op die R25-pad deur die metropolisie afgetrek is omdat hy gejaag het.

Een van die metropolisielede het geloop na die passasierskant, waar Oscar was, en Oscar se vuurwapen, wat op die sitplek gelê het, opgetel.

Oscar het glo gesê: “Jy kan nie net aan iemand anders se vuurwapen vat nie.”

Oscar en die metropolisiebeampte het gestry. In ’n stadium het die metropolisiebeampte die vuurwapen skoongemaak en die koeël wat in die loop was het uitgespring.

Die beampte het die wapen vir Oscar gegee en Darren het ’n spoedkaartjie gekry. Hulle het verder gery.

“Oscar was woedend dat iemand anders aan sy wapen geraak het. Oscar het die wapen by die voertuig se sondak uitgesteek en ’n skoot geskiet,” het Darren gesê.

Dit is toe dat Darren Oscar gevra het of hy mal is. “Oscar het net gelag.”

Darren was ook by in Januarie verlede jaar toe Oscar na bewering ’n vuurwapen in die restaurant Tasha’s in Johannesburg afgevuur het.

- Hilda Fourie