Verlede week was dit The Revenant en vandeesweek begin nog twee Oscar-benoemde flieks draai. The Hateful Eight (18TVG) is Quentin Tarantino (Pulp Fiction) se 10de fliek as regisseur en draaiboekskrywer op sy eie en weer kan jy skouspelagtige geweld, stylvolle kameraskote en keurige dialoog verwag. Dis sy tweede western ná Django Unchained (2012) en volg chronologies daarop, aangesien dit ná die Amerikaanse Burgeroorlog afspeel.

Dis die middel van die winter in Wyoming, 1875. ’n Kopjagter, John Ruth (Kurt Russell van Stargate), is op pad om die voortvlugtende misdadiger Daisy Domergue (Jennifer Jason Leigh van eXistenZ) na die dorp Red Rock te neem sodat sy gehang kan word. Maar die sneeu raak so erg dat hy gedwing word om skuiling te soek in ’n herberg waar nog ses verdagte karakters ook hul intrek geneem het. Gedurende die lang, koue nag kom elkeen se ware kleure na vore.

Onder die rolverdeling is Samuel L. Jackson (Captain America: The Winter Soldier), Channing Tatum (Magic Mike), Bruce Dern (Nebraska) en Tim Roth (Reservoir Dogs). Die fliek is vir drie Oscars benoem, insluitend beste vroulike byspeler vir Jennifer en beste klankbaan vir die legendariese Ennio Morricone (A Fistful of Dollars), wat op 87 steeds volstoom komponeer.

Die meeste resensente dink dis ’n goeie fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 75 persent. Hulle bevind: “The Hateful Eight bied nog ’n kolskoot patroon van Quentin Tarantino se kenmerkende vermenging van aksie, humor en oordadige geweld, terwyl dit ’n nog sterker begrip van filmkuns vertoon.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Nathan gee dit vier sterre. “The Hateful Eight staan gelyk met Inglourious Basterds (2009) en Django Unchained. Dit begin rustig maar eindelik beloon dit die kyker met ’n groot, kragtige, bebloede klimaks.”

Aan die ander kant van die spektrum is The Danish Girl (16N), die verhaal van Lili Elbe (Eddie Redmayne van The Theory of Everything), die eerste persoon wat ’n operasie ondergaan het om van geslag te verander. In die 1920’s in Kopenhagen skilder die kunstenaar Gerda Wegener (Alicia Vikander van The Man from U.N.C.L.E.) haar man, Einar, geklee in vroueklere. Dit ontsluit iets in Einar en hy begin die proses om as Lili te leef met die bystand van sy vrou. Die fliek is vir vier Oscars benoem, onder andere vir Eddie as beste akteur en Alicia as beste vroulike byspeler.

Resensente dink die fliek is baie goed. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as Rotten Tomatoes werk, gee dit 66 uit 100. By laasgenoemde kry dit 70 persent en die gevolgtrekking is: “The Danish Girl dien as nog ’n vertoonkas vir Eddie se talent. Hierdie pragtig verfilmde biofliek ondersoek temas op ’n aangrypende wyse wat jou sal laat nadink.”

Die Britse filmtydskrif Total Film se Kate Stables gee dit drie sterre. “Anders as die regisseur Tom Hooper se Oscar-bekroonde The King’s Speech (2010), wat ook handel oor die verhouding tussen ’n onpaar paar, is Gerda en Einar se band glansryker en minder roerend. Dis egter nie die akteurs se skuld nie; hulle gee hul alles. Dis die fliek se skoonheid wat die drama oorweldig, pleks van dit komplimenteer. Alles word met die beste moontlike smaak hanteer, maar daarom is dit ’n bietjie te styf en besadig.”

Die drie ander flieks wat vandeesweek begin het nie die Oscar-kiesers se gewete gepla nie. The 33 (10-12OT) vertel die ware verhaal van die 33 Chileense myners wat in 2010 69 dae lank onder die grond vasgevang was. Die rolverdeling sluit in Antonio Banderas (Desperado), Juliette Binoche (The English Patient) en Gabriel Byrne (The Usual Suspects).

Kritici meen die fliek is oukei maar effe teleurstellend. Dit kry 42 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “The 33 bied ’n gepaste inspirerende vertelling van ware dapperheid, maar die aangrypende verhaal en skaflike toneelspel word ondermyn deur ’n gebrek aan fokus en te veel steun op ’n resep.”

Leah Greenblatt van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly gee dit darem ’n B-. “Met uitmergelende visuele impak vang die regisseur, Patricia Riggen (Girl in Progress), die gebeurtenis goed vas, maar die keuse om als in Engels te verfilm voel soos ’n betreurenswaardige kniebuiging aan bemarkingseise en die doelstelling om soveel karakters te ondersoek skep min ruimte vir nuanse. Hierdie fliek mik vir breedvoerigheid pleks van diepte.”

The 5th Wave (13G) is nog ’n fliek wat op ’n distopiese tienerroman gegrond is (deur Rick Yancey). Dis verfrissend dat so baie van hierdie aksiebelaaide boeke en films ’n tienermeisie as hoofkarakter het, maar luister ’n mens so na die resensente, is dit al goeie eienskap van hierdie rolprent.

Ruimtewesens het die Aarde aangeval in vyf sarsies. In die eerste aanval het ’n reuse-ruimteskip verskyn en die Aarde met ’n elektromagnetiese pols getref. Die tweede sarsie het wêreldwye tsoenami’s veroorsaak wat al die groot kusstede weggespoel het. Die derde is ’n plaag wat die meeste van die mensdom uitwis. Met die vierde land skerpskutters om die oorblywende mense van kant te maak. Nou wag die oorlewendes op die vyfde sarsie, maar niemand is heeltemal seker wat dit is nie.

Die tienermeisie Cassie (Chloë Grace Moretz van Kick-Ass) se ouers is deur die ruimtewesens vermoor en nou soek sy haar vermiste, vyfjarige boetie, Sam (Zackary Arthur). Op pad ontmoet sy ’n vreemdeling, Evan Walker (Alex Roe), en hulle knoop ’n verhouding aan. Intussen is Sam gevangene op ’n militêre basis, maar gelukkig is Ben Parish (Nick Robinson van Jurassic World), die ou waarop Cassie verlief was voor die oorlog, ook daar om ’n ogie oor hom te hou.

Die meeste kritici dink maar min van dié film. By Rotten Tomatoes kry dit net 18 persent en hulle bevind: “Met onindrukwekkende spesiale effekte en narratiewe wendings wat uit vorige distopiese tienerflieks aanmekaar geflans is, voel The 5th Wave flou en afgewater.”

James Berardinelli van reelviews.net gee dit twee en ’n half sterre. “Menige onlangse tienerroman is suksesvol vir die silwerdoek verwerk (The Hunger Games, Divergent, The Maze Runner), maar The 5th Wave is ongelukkig nie een van hulle nie. Die storie is generiese apokaliptiese wetenskapsfiksie en voel soos ’n ongeïnspireerde samevoeging van Independence Day (1996) en die TV-reeks V. Die vervaardigers probeer te veel in 100 minute indruk en verloor beheer oor die narratief. En omdat dit die eerste aflewering van ’n beplande trilogie is, is die einde flou en skimp na toekomstige flieks wat moontlik nooit gemaak sal word nie.”

In die komedie Dirty Grandpa (16TSD) speel die tweemalige Oscar-wenner Robert De Niro (The Godfather: Part II) die titelrol. Wanneer die jong prokureur Jason Kelly (Zac Efron van High School Musical) sy ouma se begrafnis bywoon, versoek sy vervreemde oupa, Dick (Robert), dat Jason hom oor die breedte van Amerika na sy nuwe aftreeoord vergesel.

Jason en sy preutse verloofde (Julianne Hough van Rock of Ages) is nie baie opgemaak met die idee nie, maar hy stem in. Maar op pad kom Jason agter sy orige oupa het hom om die bos gelei: Dick wil hê hulle moet Florida toe gaan waar die Amerikaanse studente jaarliks tydens hul lente vakansie heeltemal uithaak en so val die twee rond van die een dronk partytjie na die ander.

Die resensente dink die fliek is swak. Metacritic gee die rolprent 18 uit 100, maar by Rotten Tomatoes kry dit net ses persent. Die konsensus is: “Dirty Grandpa verteenwoordig die onverskillige rondtasting van ’n klassieke talent wat eens op ’n tyd plesier aan miljoene mense verskaf het.”

Trevor Johnston van Time Out London gee dit twee sterre. “Die titel is al wat jy hoef te weet oor hierdie komedie wat effens van ’n verleentheid vir Robert is. In sy 73ste jaar geniet hy duidelik die feit dat hy niks het om te bewys nie. Hoekom anders sit hy homself deur sulke skaamtelose snert? Hy gee dit sy alles, maar dis moeilik om nie te voel dat De Niro darem beter as dit verdien nie. Efron probeer ook hard, maar sy romantiese storielyn sal jou aan die slaap sus. Jy sal lag, maar jy sal ook hartseer voel, want dis soos om toe te kyk hoe ’n geliefde bejaarde familielid ’n groot gek van hulself maak.”

  • Sandra Visser