Die treffendste supermaan in dekades sal Maandagaand gesien kan word. Kenners reken die laaste keer toe iets van dié omvang aanskou is, het die Koue Oorlog net op dreef begin kom. Volgens die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa was die maan in 1948 laas so naby aan die aarde as wat dit Maandag sal kom.

 

Die maan sal Maandag sowat 356 509 km van die middel van die aarde af wees en hoër getye kan moontlik voorkom.

Vir ons leke behoort dit dus ten minste beduidend helderder en groter as ’n gewone volmaan te lyk. Trouens, so ’n maan kan tot 30% helderder en 14% groter as ’n normale volmaan lyk, sê Nasa in ’n verklaring. In watter mate ’n mens die verskil gaan kan waardeer, hang wel af van waar jy jou bevind. In ’n helder verligte stadsomgewing kan dit ietwat moeiliker wees. As jy egter, byvoorbeeld, ons byplaneet laag oor die horison sien hang met byvoorbeeld bome op die voorgrond, kan dit wel besonder asemrowend wees.

Wanneer die maan so naby aan die aarde kom, word daar ook van ’n "interplanetêre soen" gepraat.

Terwyl supermaan-makieties blykbaar in baie dele van die wêreld beplan word, moet ons dalk ten minste sorg dat ons Maandag ’n verkyker of amateur-teleskoop en ’n kamera byderhand het...

Lees hier vir 'n paar handige fotografie wenke om Maandag se maan op sy mooiste af te neem.

  • Huisgenoot nooi lesers om gerus vir ons hul eie supermaan-kiekies na hgnbrief@huisgenoot.com te e-pos. Kies egter asseblief net die twee of drie bestes en sorg dat hulle nie altesaam groter as so 3 MB is nie.

Bronne: NASA, Reuters, space.com