Die eksentrieke Coen-broers is terug met nog ’n aweregse komedie met hope sterre in ’n verskeidenheid rolle. Hail, Caesar! (10) speel in die 1950’s af in Hollywood en fokus op Eddie Mannix (Josh Brolin van die Coens se No Country for Old Men), wat die filmateljee Capitol Pictures se netelrigste probleme moet oplos. Toe Baird Whitlock (George Clooney van Ocean’s 11), die ster van hul nuwe Bybelse epos, Hail, Caesar, A Tale of Christ’s Life, verdwyn, moet Eddie hom opspoor. Die rolverdeling sluit in Channing Tatum (Magic Mike) as die singende en dansende ster van ’n musiekblyspel, Scarlett Johansson (The Avengers) as ’n aktrise in ’n penarie omdat sy swanger maar ongetroud is, en Ralph Fiennes (Voldemort in die Harry Potter-flieks) as ’n pretensieuse Britse regisseur.

Die meeste kritici dink die fliek is uitstekend. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 80 persent. Hulle bevind: “Hail, Caesar! is ’n aangename, liggewig-liefdesbrief aan Hollywood in die 50’s, propvol geskiedkundige detail en met akteurs wat elke rol soos ’n handskoen pas.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Dan Jolin gee dit vier sterre. “Die fliek bevat hope elemente van Joel en Ethan Coen se vorige flieks (soos The Hudsucker Proxy en The Big Lebowski), en die broers geniet dit terdeë om met die studiostelsel te spot terwyl hulle terselfdertyd ’n vervloë goue era vier. Dit bevat ook ’n reeks briljante herskeppings van die soort flieks wat daardie tyd gewild was. Tatum neem deel aan ’n indrukwekkende klopdansnommer en Johansson, wat soos ’n meermin aangetrek is, is die fokus van ’n gesinchroniseerde swemtoneel. Wat die fliek egter kort, is die gom om hierdie tonele aan mekaar te heg. Eddie se wedervaringe bind nie alles bevredigend saam nie en daar is nie veel van ’n storie nie.”

Vandeesweek se Oscar-benoemde film is Trumbo (13TD), nog ’n fliek wat in Hollywood se goue era afspeel. Dis egter nie ’n gekskeerdery nie, maar ’n drama en handel oor die titelkarakter, die draaiboekskrywer Dalton Trumbo (Breaking Bad se Bryan Cranston, wat vir beste akteur by die Oscars benoem is).

Trumbo (Spartacus, Roman Holiday) is danksy sy talente een van die filmbedryf se elite, maar sy ondersteuning van werkersunies en lidmaatskap van die Amerikaanse Kommunistiese Party ontketen die woede van die filmster John Wayne (David James Elliott van die TV-reeks JAG) en die magtige rubriekskrywer Hedda Hopper (Helen Mirren van The Queen). Dis 1947 en die era van die Rooi Gevaar en die vrees vir ’n kommunis agter elke bos.

Trumbo word voor die Komitee van Onamerikaanse Aktiwiteite gedaag, ’n organisasie wat gestig is om kommunistiese propaganda in rolprente te ondersoek. Hy weier egter om enige vrae te beantwoord en word vir 11 maande tronk toe gestuur. Ná sy vrylating wil geen filmateljee enigiets met hom en sy vriende te doen hê nie, maar Trumbo is hardkoppig en gaan nie sommer net lê nie.

Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, gee dit 60 uit 100. By laasgenoemde kry dit 73 persent en die konsensus is: “Trumbo bevat goeie toneelspel en dien as ’n eerbare huldeblyk aan ’n briljante skrywer se beginselvaste standpunt, al behaal die fliek nie heeltemal die grootsheid van sy onderwerp se eie klassieke draaiboeke nie.”

Mark Kermode van die Observer gee dit drie sterre. “Cranston is uitstekend in die hoofrol en verpersoonlik die driftige genie wie se hardkoppigheid ’n sterkpunt sowel as ’n swakheid was. Ongelukkig neig die tragiekomediese drama wat rondom hom geskep word na tweedimensioneel.”

Nog ’n film wat op feite gegrond is, maar ’n heel ander aanslag het, is 13 Hours: The Secret Soldiers of Benghazi (16TG). Die regisseur, Michael Bay (Transformers, Bad Boys), laat die fantasie vir eers agter om die verhaal te vertel van ses lede van ’n sekuriteitspan, gespeel deur onder andere John Krasinski (The Office), wat op 11 September 2012 die VSA se diplomatieke basis in Benghazi, Libië, teen volgehoue terroristeaanvalle moes beskerm.

Die meeste resensente dink die fliek is oukei. Rotten Tomatoes gee dit 55 persent en bevind: “In vergelyking met sy ander rolprente is 13 Hours ’n betreklik volwasse en beheersde poging van Michael Bay, al bied dit nie heeltemal die impak wat die storie verdien nie.”

Joshua Rothkopf van Time Out New York gee dit drie sterre. “Bay vaar nie te sleg nie. Die twee uur lange aksiesimfonie is van die beste werk wat hy al gedoen het en herinner aan Steven Spielberg se uitbeelding van die Normandie-inval in Saving Private Ryan (1998). Ongelukkig sukkel die draaiboek om kenmerkende karakters uit die bebaarde soldate te skep en hulle maak nie veel van ’n indruk nie.”

Kykers wat ná Valentynsdag steeds op soek is na romantiese rolprente, kan die plaaslike drama Happiness Is a Four-Letter Word (10-12O) oorweeg. Soos baie van Hollywood se romantiese komedies handel dit oor drie vriendinne wat met liefdesprobleme sukkel: Nandi (Mmabatho Montsho van die TV-reeks Jacob’s Cross) behoort dolgelukkig te wees. Sy is ’n vennoot by ’n regsfirma, besit ’n spoghuis en staan op trou, maar tog kort iets. Zaza (die sosiale vlinder Khanyi Mbau) leef in weelde, maar is eensaam en begin ’n affair terwyl haar man uitstedig is. En Princess (Renate Stuurman van Song vir Katryn) raak verlief op die soort man teen wie jou ma jou gewaarsku het.

Emmanuel Tjiya van sowetanlive.co.za gee dit ses uit 10. “Montsho is uitstekend en Mbau is nie skaam om met haar skinderbladpersona te spot nie, maar Stuurman kry nie veel om te doen nie. Sommige skote werk nie en party dele voel afgejaag; tog is dit ’n hoogs vermaaklike springmieliefliek, perfek vir ’n afspraak of ’n aand saam met vriendinne.”

Dit moes seker een of ander tyd gebeur: die eerste parodie van Fifty Shades of Grey is hier en soos ’n mens verwag, sit een van die Wayans-familie daaragter. Ná die Scary Movie-reeks en A Haunted House (2013) kry ons Fifty Shades of Black (18TGSN), of ons dit nou wil hê of nie.

Dit blyk die meeste kritici wil dit beslis nie hê nie. Metacritic gee dit 28 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit ’n skamele 9 persent. Hulle bevind: “Selfs vir ’n parodie is Fifty Shades of Black uiters wisselvallig. Ongelukkig bied dit ook baie minder kanse om te lag as die onopsetlik snaakse fliek waarmee dit probeer spot.”

Christian Holub van Entertainment Weekly gee dit darem ’n C+. “Dis verbasend moeilik om ’n parodie van Fifty Shades of Grey te maak. Die boek, met sy swak, swak skryfstyl, sowel as die fliek, met ’n gebrek aan aanklank tussen die hoofakteurs, is soms al klaar so belaglik dat daar geen ruimte vir spot is nie. Al wat die filmmakers kan byvoeg, is nog meer lawwigheid en die onvermoë om hul hoon tot een fliek te beperk. So word daar dan ook met wisselende sukses dwarsklappe uitgedeel na Whiplash, Magic Mike en Zero Dark Thirty.

“Tog is daar oomblikke van aweregse, skerp humor. Waar die kille Christian Grey in die boek en fliek die maagdelike Anastasia domineer, word Christian Black (Marlon Wayans van White Chicks) in die parodie dikwels deur sy Hannah (Kali Hawk van Bridesmaids) ontman. Die fliek mymer ook oor die meester/slaaf-dinamiek wat geskep word wanneer sulke rolle deur twee swart akteurs uitgebeeld word. Maar dis nie lank nie of daar word weer op toilethumor teruggeval.”

- Deur Sandra Visser